Dié laerskool keer tradisionele stelsel op sy kop


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Sun Valley Laerskool in Kaapstad het omtrent mense aan die gons gehad met sy besluit om huiswerk af te skaf. Boonop het dié skool ook ʼn heel ander rigting ingeslaan met hoe leerlinge opgevoed word. Volgens die hoof, Gavin Keller, sien hulle reeds ongelooflike resultate.

Gavin sê dié besluit is nie sommer oornag gemaak nie en volg op jare se navorsing. “Ons is reeds van 2000 af tot nou toe besig om die hele stelsel te herontwerp, maar die besluit om huiswerk af te skaf is eers einde verlede jaar gemaak.”

Gavin meen hulle is besig met ʼn revolusie wat die huidige skoolstelsel heeltemal op sy kop keer. “Die tradisionele skoolstelsel het baie goed gewerk toe jy mense wou voorberei om in fabrieke te gaan werk, maar vandag is ons besig om mense voor te berei om entrepreneurs en denkers, innoverend en kreatief te wees.”

Nero-leermetode het minder druk

Sun Valley is ʼn Nero-leerskool wat alle leermetodes skoei op navorsing oor hoe die brein leer. “Die brein leer nie as hy spanning ervaar nie. Sodra ʼn persoon spanning ervaar, gebruik hy nie die kognitiewe deel van sy brein nie, maar sy ‘oorlewingsinstink’.” Gavin sê die huidige skoolstelsel is baie akademies-gedryf, wat hoë vlakke van spanning veroorsaak en wat kinders verhoed om reg te leer. “Skole produseer mense wat nie take kan voltooi nie, wat sukkel om by ʼn sperdatum te hou en wat nie betyds by die werk is nie.”

Hy meen ook dat huiswerk een van die faktore is wat die meeste spanning veroorsaak – nie net by kinders nie, maar ook by ouers en onderwysers.

Ná ʼn voldag van leer het die kind nog ʼn groot hoeveelheid werk wat hy by die huis moet voltooi. Die ouers, wat ook hul pond vleis by die werk moes betaal, kom doodmoeg tuis en moet dan die kinders ook help met huiswerk.

“Dit plaas ook druk op onderwysers, wat weer hierdie werk moet nasien.” Gavin sê dis alles onnodige spanning en dat daar genoeg tyd bedags is om kinders effektief te laat leer. “As ons kinders by die skool nie kan leer wat hulle moet leer nie, doen ons iets verkeerd.”

Dié besluit is nie ligtelik gemaak nie, en intensiewe toetse het gewys dat kinders beter akademies presteer as daar minder druk is. “Die eerste ses maande van die jaar het ons elke Woensdag toets geskryf, en aan die einde van die termyn het ons ʼn assesserings-week gehad – daar was ongelooflike druk gewees. Die volgende ses maande van die jaar was daar geen weeklikse toetse nie, slegs assessering aan die einde van die termyn en ook geen huiswerk nie. Die resultate is ongelooflik – daar was ʼn groot verbetering in die tweede semester, akademies gewys.”

Konsentrasievermoë

Volgens Gavin kan die mens se brein vir ongeveer sewe minute konsentreer – dit is wanneer daar intensiewe inligting deurgegee word sonder humor, geen beweging of ritme nie. “Navorsing wys dat ʼn sewejarige elke sewe minute moet beweeg, ʼn tienjarige, elke tien minute en ʼn 13-jarige, elke 13 minute. ʼn Volwassene moet na 20 minute beweeg. Dit is normaal vir ʼn gr. 3-leerling om na tien minute in die klas kriewelrig te raak omdat sy lyf vir hom sê hy moet begin beweeg. ʼn Onderwyser sal met so ʼn kind raas en die ouers inroep omdat die kind nie kan konsentreer nie, en die ouers sit dan die kind op medikasie.” Sun Valley Laerskool se metode maak seker dat kinders op verskeie maniere aktief is sodat inligting vasgelê kan word.

Gavin meen daar is ʼn persepsie wat heers dat as ʼn mens nie vir ʼn kind huiswerk gee nie, hy nie verantwoordelikheid gaan leer nie. “Daar is geen navorsing wat dit bewys nie,” sê hy.

Hoewel die kinders nie meer huiswerk kry nie, moet hulle daagliks 20 minute lees. “Ons kry terugvoer van ouers wat sê hulle kinders het nooit ʼn boek in hulle lewe gelees nie, maar dieselfde kinders kan nou nie genoeg kry van lees nie. As ons hierdie nasie wil verander, moet ons ons kinders aan die lees begin kry.”

Gavin meen hy het al kritiek vir sy metodes ontvang, maar hy sê hy praat graag oor dié saak en is nie bang vir ʼn debat nie.

Luister gerus na die podsending om te hoor hoe onderrig in dié skool se klaskamers plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Theresa ·

UITEINDELIK!! Dankie tog dat iemand die waarheid gesien het in die stelsel en ‘n uitkoms vind wat kan werk EN mense werklik nog met onderrig die skool sal laat verrig.
Die assesserings sal ook sekerlik die lui mens uitwys, terwyl die skaam enetjie en angs gevulde enetjie nou ook dalk pragtig gaan presteer. Bravo! Wil vra dat jul sommer so gou moontlik ook ‘n plan uitdink hoe om boelies vanaf die eerste geval vasvat. Dit is nog ‘n issue wat mense laat swak presteer – dus belangrik om uit te roei.

Heidi ·

Kinders leer baie meer deur speel as om elke middag te worstel met ‘n klomp huiswerk. Deur spel word beplanning geleer. Ons as grootmense wil rus na ‘n dag se harde werk maar ons verwag kinders moet na 7 ure skooldag nog meer as ‘n uur kom sit en huiswerk doen. Laat ons kinders weer kinders wees en depressie onder kinders sal verdwyn. Die druk om te presteer het net te erg geword en ja, heelwaarskynlik sal baie minder kinders ritalin nodig hê as ons die kinders minder hoef te assesseer want dit voel of dit al is wat ons deesdae doen.

Daleen ·

Dit moes jare gelede al gebeur het. Ek staan saam die man. Dit het nog nooit vir my sin gemaak nie, skryf altyd toets en niks anders nie. Een toets week n kwartaal is goed genoeg. Hou op om die kinders in n blik te druk. Praat van bullies! Ek hoop regtig al die ander skole doen dit. Give that man a Bell’s!

Henrietta Klaasing ·

Ek het “Nero” op verskillende maniere op die Internet gesoek, maar is telkens net na hierdie skool verwys. Ook op die skool asook die “familie van skole” kon ek niks verder daaroor kry nie. Op die blog is net een verhaal van ‘n seuntjie wat skielik lief geword het vir lees. Dit is baie vroeg om nou al dit as ‘n dawerende sukses te verklaar. Ek sien ook die skool glo in klein klassies – natuurlik sal dit baie makliker wees om iets wat in groter klasse tuis gedoen moet word, deur onderwysers self by die skool te doen.

Izzy ·

Gemengde reaksie wat ek artikel lees.Soveel aspekte speel ‘n rol met huiswerk …

* die doel waarvoor dit gegee word – as dit gegee word om nuwe feite ( wat deur die dag vir die kinders geleer is) ‘vas te le’ – goed,
* as die huiswerk is om kennis te verbreed – Take (indien KINDERS dit doen en nie die ouers nie) is baie goed, want daardeur moet kinders navorsings werk (lees, opsom, slotsom kom)doen.
* Indien huiswerk gedifferensieerd is, werk elke kind op haar/sy vlak/vermoeens .
* Dis ‘n goeie gewoonte as jou kind daagliks huiswerk doen (ek praat nie van ure aaneen nie) want dit gaan hulle voorberei vir hoerskool asook universiteit – waar hulle verseker, ELKE dag opdragte/huiswerk gaan kry .
Ens.

Terselfder tyd is daar natuurlik ook die nadele:
* Ouers moet kinders help – dus vat dit tyd vd ouers asook die kinders.
* Onderwysers moet al die huiswerk merk en dus neem dit tyd.
*As hulle huiswerk doen, moet hulle weereens SIT – en veral vir seuntjies is dit erg om nog te sit…..hulle het soveel energie en wil net hardloop en spring.
Ens.

Die feit is dat daar 30 + kinders in ‘n klas is (behalwe as dit ‘n privaat skool is ens), so die onderwysers kan verseker nie in elke kind se boek kyk of vrae, vra nie….daar’s verseker net nie genoeg tyd in die skooldag daarvoor vir elke vak nie. Dus verstaan al die kinders nie noodwendig elke konsep wat verduidelik word nie en dan dink ek, is huiswerk somtyds nodig (net as ouers nie net al die antwoorde gee nie).

Leendert van Oostrum ·

Suid-Afrika het een van die swakste onderwystelsels ter wêreld. Dit sê selfs die onderwysamptenare se verslae aan die minister.

Een van die redes hiervoor is dat die oorregulering van onderwys die professionele onderwyser verander het in ‘n tegnikus wat weinig meer doen as om voorgeskrewe prosedures uit te voer. Ons onderwysstelsel is gemik op onderrig – dit wat die onderwyser doen. Dit het weinig te make met leer – dit wat die leerling doen.

En, ja, die Finse skoolstelsel gee ook geen huiswerk nie. Daar is ook geen verpligte toetse of eksamens nie. En jaar na jaar word Finland deur Unesco aangewys as die land wie se leerlinge die beste presteer volgens internasionale standaarde.

Die metodes wat die Sun Valley -skool aanwend is GEENSINS ongetoets nie. En hulle is nie eens aan die radikale kant van die spektrum nie. Vergeleke by onderwysstelsels soos Summerhill, die Sudbury-skole en selfs Waldorf en Montessori. In Suid-Afrika word self shierdie skole natuurlik in die keurslyf van CAPS ingedwing.

Dit is waarom kinders vragte huiswerk kry – die skool kan by weinig meer uitkom as om net opdrag te gee wat geleer moet word, en gaan na of dit geleer is. Dit wat geleer word word hoofsaaklik tuis geleer – aan moeder’s knie. Geen wonder honderdduisende ouers het reeds besluit daar is geen sin in om die kinders skool toe te stuur nie.

Daarom is dit besonder verblydend as daar enkele onderwysers en skole is wat die moed en die deursetttingsvermoë het om weg te breek van die dwangbuis en met ander metodes weg te spring.

Suid-Afrika het dit uiters dringend nodig dat onderwysers wegkyk van die “onderrig” wat hulle doen en fokus op wat en hoe die kinders leer.

Dit moes baie moed gevat het, baie navorsing en oortuiging vir so ‘n staatskool om selfs toegelaat te word om so ‘n klein bietjie anders te maak. Die hoof, onderwysers, en veral die ouerkorps van hierdie skool verdien die grootste lof.

Koos ·

Jy praat die waarheid Leendert. Kom ons hoop ander skole gaan die beginsels van Sun Valley ook kan toepas.

Nnn ·

Did dalk goed om te eksperimenteer met die skool stelsel. Ek dink die huidige sisteem verander kinders in skape en mense wat dalk sou uitblink en eendag iets groot uitvind se kreatiewe denke word onderdruk. Dit is wel ook belangrik om baie kinnis op te doen want soos hulle se ‘knowledge is power’.

Leendert van Oostrum ·

Seymour Papert verklaar:

“I think schools generally do an effective and terribly damaging job of teaching children to be infantile, dependent, intellectually dishonest, passive and disrespectful to their own developmental capacities.”

Hy behoort te weet = hy het grootgeword, en sy skoolopleiding gekry in Johannesburg, Suid-Afrika. Hy het by Wits studeer en sy PhD daar verwerf voordat hy nog een by Cambridge gekry het. Hy het later professor aan MIT geword, een van die pioniers in kunsimaktige intelligense en wêreldbekende in onderwysinnovasie.

Ook interessant – op amper tagtig het hy breinskade opgedoen in ‘n padongeluk. Die span wat aan sy na-operatiewe rehabilitasie gewerk het, het sommige van die selfdoen- en selfleertegnieke gebruik wat hy self vir die onderwys van kinders ontwikkel het.

Ouer ·

Huiswerk is in my opinie n euwel. 50% word deur ouers gedoen. Skole mors tyd met onnodige vakke en lui onderwysers stuur onnodige onproduktiewe werk huistoe. Kinders leer nie tydsbestuur nie en sal ook as volwassene dan werk huistoe neem – dis mos wat skool jou leer. CAPS handboeke is swak opgestel. Brovo vir n Skool met visie.

Gert ·

Wonderlik. Iemand het begin dink!! Dit kan skool begin lekker maak. Ek hoop die hoerskole kan ook Duitsland se manier naboots waar die leerling van vroeg af net in sy ambag opgelei word met al die nodige wiskunde, wetenskap, taalvaardigheid of wat ook al sodat die kind met baie ondervinding in sy beroep skool kan verlaat. Dissekteer die vakke en haal slegs dit uit wat te doen het met die kind se loopbaan keuse. Elke dag net gevorderde vakteorie en werkswinkels.

EMK ·

Ek sou ook sê dat skool “vol dag” moet wees. Laat skoolure bietjei langer wees en sport tussen-in – so kry ALLE kinders kans om aan sport deel te neem (gesonde liggaamhuisves ‘n gesonde gees!) en so hou ons kinders (wie se ouers nie omgee/by die werk is en nie altyd weet wat tuis gebeur na skool) uit die strate en bendebedrywighede sal ook sommer vasgevat word. Ma’s het dan gemoedsrus en hoef nie ekstra te betaal vir dagmoeders of naskoolsentrums ens nie, die kind is veilig by die skool. Ons het ver van die skool af gewoon, na ‘n uurlange busrit na skool huis toe was daar eenvoudig nie tyd om dan skool teo te loop (kms ver!) om sport te doen, weer kms ver terug te loop EN nog tyd in te ruim vir huiswerk nie. So word ook gesien dat kinders alles in elke vak doen in plaas van huiswerk gee wat party net nie gaan doen, ander mee sukkel en ander die ouers amper alles dit vir die kind doen. As ek dink aan take bv – sommige kinders HET nie tuis toegang tot rekenaars om inligting op te soek nie, nou gaan kinders wat nooit voorheen presteer het dalk sommer begin utistaan want by die skool is alles mos klaar, ‘n bib en gewoonlik rekenaars ens. Baie beter.

Lammie ·

Dit is ‘n hoop bollie. Kinders word deesdae soos sielsiekes behandel. Kyk maar hv. kinders gebruik rittelin vergeleke 20 jaar gelede. As kinders nie huiswerk kry nie, hoe gaan hulle leer om vir hulself te dink? Al wat hierdie resultate toon is hoe swak ons huidige stelsel is. Of gaan dit oor die arme onderwyser wat huiswerk moet nagaan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.