Afrikaans is vanjaar 90 jaar jonk!

afrikaans scrabbleAfrikaans vier hierdie jaar sy negentigste erkenning as amptelike taal in Suid-Afrika. Die Parlement van die eertydse Unie van Suid-Afrika het Afrikaans op 8 Mei 1925 as amptelike landstaal erken. Afrikaans is een van net vier tale wat in die vorige eeu suksesvol in alle taalfunksies moderniseer het. Omdat Afrikaans die jongste taal is, kan ons met reg sê dat Afrikaans vanjaar amptelik 90 jaar jonk is, hoewel die taal al baie langer geskryf en veral gepraat is. Die keuse vir Afrikaans in 1925 is later as ʼn besondere geloofsdaad deur NP van Wyk Louw beskryf. Hy het gesê dat dit ʼn groot waagstuk was om Hollands as ʼn gevestigde taal te laat vaar, en die stryd teen Engels met ʼn jong ongevormde taal sonder literatuur of status aan te knoop.

Nietemin het hierdie geloofsdaad vinnig vrugte afgewerp. Die stryd om Afrikaans as openbare taal te vestig, is veral in die skole suksesvol beslis. Dit was hierdie “broodsaak” om Van Wyk Louw oor die belangrikheid van moedertaal onderwys aan te haal, wat die sleutel tot die suksesvolle modernisering van Afrikaners was. Die volgende groot deurbraak was die vertaling van die Bybel in Afrikaans, wat in 1933 verskyn het. Dit is deur dr. DF Malan beskryf as die grootste gebeurtenis in die lewe van die Afrikaanse volk op die gebied van kultuur en godsdiens.

Identiteit

Afrikaans het gou die simbool van Afrikaners se kollektiewe identiteit geword. Die taal is reeds in die dertigerjare gestandaardiseer, en die grootste deel van die woordeskat en spelling is vandag steeds dieselfde. Daarby het verskeie uitmuntende digters begin bou aan ʼn letterkundige skat, soos Van Wyk Louw, Dirk Opperman, Elisabeth Eybers en Totius. Terselfdertyd het al hoe meer dramas, romans, kortverhale en letterkunde verskyn wat respek vir Afrikaans as taal afgedwing het.

Prof. Hermann Giliomee het gesê “die groei van Afrikaans as volle funksionele taal is een van die merkwaardigste kulturele verskynsels van Suid-Afrika”. Sy stelling word onderstreep deur die feit dat Afrikaans in die 1990’s die sterkste literêre taal in die land was indien produksie in Suid-Afrika as maatstaf gebruik is.

Afrikaans is ʼn moderne wêreldklastaal, en sy sprekers het in Afrikaans wêreldklasprestasies behaal, vanaf die split van die atoom tot hartoorplantings, vanaf die opbou van wêreldklassakeryke tot ʼn nóg ryker letterkunde.

Gemaakte Afrikaans

Prof. Jaap Steyn se biografie van Afrikaans, “Ons gaan ʼn taal maak”, kry sy titel by die woorde van ʼn vroeë taalstryder, Izak van Heerden, wat hierdie leuse in 1905 bo-aan ʼn brief aan Gustav Preller geskryf het. En het daardie geslag toe nie inderdaad ʼn taal gemaak nie!

Afrikaans word vandag bedreig deur staatsbenadeling, Engelsgedrewe globalisering, die keuse vír Engels in meertalige gebiede, en verwaarlosing deur Afrikaanssprekendes. Die grondwetlike erkenning van 11 amptelike tale, beteken in praktyk dat Engels die landstaal word sonder dat dit lyk of die staat taalmoord pleeg. Die onderliggende verwagting is dat die sprekers van die ander 10 tale ook Engels aanvaar en self taalselfmoord pleeg. Maar om Afrikaans te beskerm hoef ons nie van voor af te begin nie, ons het ʼn hoogs ontwikkelde taal van ons ouers af gekry. Ons taak is bloot om dit te bewaar, te bevorder en in ʼn beter toestand aan te volgende geslag na te laat.

2015 as Taaljaar

ʼn Taal word nie bevorder deur die heeltyd die bedreigings te beklemtoon nie, maar deur opwindende planne aan te pak wat sy sprekers se verbeelding aangryp. Daarom behoort alle Afrikaanssprekendes 2015 as Taaljaar te verklaar, en die amptelike erkenning van Afrikaans met dieselfde wilskrag en daadkrag vier waarmee ons taal opgebou is. ʼn Taal en sy mense se voortbestaan berus immers nie op abstrakte regte nie, maar op praktiese dade waarmee hy daagliks sy bestaansreg bevestig.

Dis ons taal, dis ons toekoms. Kom ons vier Afrikaans op elke manier denkbaar! Kom laat ons almal saam – soos Van Wyk Louw dit so onvergeetlik stel – die skat van Afrikaans veilig deur die skare dra.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Afrikaans, Goeie nuus, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.