Nuuskommentaar: Hoofstuk van Boeremagverhoor afgesluit

Argieffoto.

Argieffoto.

Met die vonnisoplegging van die Boeremaglede is ‘n hoofstuk voltooi, maar duidelik lank nie die boek nie.

“Tragedie” staan groot oor die boek se titelblad geskryf waaraan meer as ‘n dekade lank geskryf is. Lewens wat verloor en verwoes is, gesinne wat verbrokkel het… en die waarskynlike appèlproses teen vonnisse wat voorlê vir diegene wat nie nou vrygelaat is nie.

Die skryf van die boek het reeds ‘n paar jaar voor die aanvang van die hofsaak begin, ‘n unieke hoofstuk op sy eie. Meestal goed opgeleide mense, waarvan verskeie professionele beroepe beklee het, wat ideologies ingesuig is in ‘n denkriging wat by verskeie deur ‘n radikale godsdienssiening beïnvloed is. Die wortels hiervan is wêreldwyd uitgesprei, maar in Suid-Afrika het die verskillende elemente ‘n unieke sameloop gevind, asook ‘n teelaarde baie gunstig hiervoor.

Van die lede wat gevonnis is, het tydens die verhoor gewys op mense wat nié tereggestaan het nie, wat hierdie beïnvloeding doen.

Die saak het juridies ook die grens tussen hoogverraad en bevryding getoets. Die boodskap is duidelik dat die regbank meen die grondwet bied voldoende opsies om verandering vreedsaam teweeg te bring. In ‘n land waar sommiges steeds weier om hul stemreg uit te oefen omdat hulle glo dat dit legitimiteit aan die post-1994-bedeling sal gee, dan is dit heel voorspelbaar dat so ‘n regsuitleg nie oral ewe veel byval sal vind nie.

Voorts beleef die land ook die situasie dat hulle, wat hulle voorheen tot gewapende verset gewend en heelwat dade van terreur ingesluit het, nie alleen skoon leie het nie, maar ook as ikone van vrede vereer word.

Plaasmoorde duur onverpoosd voort, met ‘n minister wat koppig ongevoelig is daaroor. Lyste wat al langer word van swart op wit-misdaad doen per e-pos die rondte. Julius Malema en sy party het die aflosstokkie oorgeneem by wyle Peter Mokaba. Verkiesings is rassesensusse, en die wetgewing wat sekere bevolkingsgroepe benadeel, word net al meer.

Slegs die mees naïewe waarnemer sal glo dat die situasie hom nie sal herhaal nie. Slegs die mees naïewe sal glo dat dit met ‘n volgende aksie anders sal verloop en daar minder tragedietrane opgeteken gaan word.

Maar dit is nie die oplossing nie, en was dit ook nie toe nie.

Die gaping tussen ‘n gewapende opstand en om binne die grondwetlike raamwerk – wat boonop algaande meer en meer gebreke toon – te werk, is groot en baie sal hierdie sprong baie moeilik vind. Vir sommiges sal dit weens die impak van ‘n godsdiensbeskouing op godsverloëning neerkom.

Maar hoe gaan by hierdie punt verbybeweeg word, want daar moet by hierdie punt verbybeweeg, en aanbeweeg word?

Daar moet eenvoudig maniere gevind word om die toekoms binne vreedsame planne te herdefinieer. As politieke partye nie aftrek gaan kry nie, dink minstens daaraan om die versterking van burgerlike organisasies wat die middele wat tot beskikking is, soos die howe, in te span.

En al is die buitelandse media nou gereeld giftig teenoor die ANC-regering, beteken dit nog lank nie die Afrikaners word noodwendig as engeltjies uitgebeeld nie. Help bou, as ambassadeurs, aan die beeld van die Afrikaners in die binne- en buiteland sodat daar nie ‘n instinktiewe reaksie teen die Afrikaner en ander minderhede se opvra van minderheidsregte is nie.

Die buitelandse beriggewing oor die vonnisoplegging toon duidelik hoeveel werk daar nog voorlê.

So lank enige vorm van radikalisme in Afrikanergeledere aanwesig is, sal die Afrikaner nie in vrede met homself kan leef nie. En baie van hierdie berigte is gebaseer op Suid-Afrikaanse berigte wat bedenklik swak geskryf is, en op duidelike onbekwaamheid dui.

Ja, baie van ons het lede van die Boeremag wat nou gevonnis is persoonlik geken – net om met hul arrestasie bewus te word daarvan dat ook vriendskappe nie vertroue ingesluit het nie.

Interne vrede moet gesoek word sodat hande gevat kan word, en die probleme wat die Afrikaner in die gesig staar so doeltreffend aangespreek word as moontlik – en hande vat met ander minderhede, en goedgunstige lede van die meerderheid – sodat almal die beste uit die situasie kan put.

Lees ook:
Hof lewer Boeremag-vonnis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Thea Kluckow ·

Innerlike vrede ja maar hoe kan jy handevat met n regering, enige regering, wat jy nie vertrou nie, wat bewys het dat hul hele demokrasie berus op bedrog? N regering wat jou as mens, as ander ras as ander groep besteel, belieg en ander aanhits en self haatspraak uiter, n regering wat toelaat dat bejaardes van een ras wreedaardig vermoor word. Kyk na al die optrede en erkenning van moord op kinders van een kleur en vergelyk dit met die afmaak van blanke moorde as niksseggend. Hoe kan mense hul bitterheid teenoor die tipe despote verhoed en hande vat om n nuwe land en nasie te bou. Die grootste deel van die boek moet nog geskryf word en die handskrif sal nie bewerig wees nie. Tot die ink opraak!!!!

Herman ·

Die bedoeling hierin was in die eerste plek hande vat met mede-Afrikaners, en tweedens ander minderhede in min of meer dieselfde posisie, juis om te verweer en te versterk teen die huidige regering. En die hande vat binne Afrikanergeledere is baie moeiliker as wat dit klink – dink maar aan die manier waarop mense met ander standpunte se standpunte in die sosiale kommentare met vennyn aangevat word. Kyk net hoeveel word ander Afrikaners byvoorbeeld vir verraaiers uitgekryt. En elkeen glo vanuit ‘n godsdienstige hoek dat hy self reg is.

Alwyn Beetge ·

Herman ek stem saam. Die Afrikaner se oorlewing hang af van uitreik en hande vat met mede- Afrikaners en ander minderhede.n Reuse taak.
Afrikaners moet ophou om hul deur ultra-regse Afrikaners te laat mislei. Die oplossing is kompleks en geweld is n swak opsie.
Dit is Sun Tzu wat gese het: Hence to fight and conquer in all your battles is not supreme excellence; supreme excellence consists in breaking the enemy’s resistance without fighting. # – See more at: http://suntzusaid.com/book/3#sthash.tjUubE6L.dpuf

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.