Nuuskommentaar: Kospakkies in Potch: Word SA-verkiesing reeds geZim?

Argieffoto.

‘n Tussenverkiesing vind vandag [Woensdag] in Potchefstroom plaas, en heel “toevallig” het minister Bathabile Dlamini besluit gister was die regte dag om kospakkies in die betrokke wyk te laat uitdeel – op belastingsbetalerskoste. Die leier van die DA, Helen Zille, twiet hierop: “With poo chucking and abuse of taxpayer-funded food parcels for ANC’s benefit, how will we have a free-and-fair election next year?”

Hierdie is maar een van die voorbeelde waar die ANC skynbaar doelbewus staatsbronne vir eie politieke gewin inspan – soos onlangs met die oorhandiging van HOP-huise, en waar die onderskeid tussen Suid-Afrika en die verkiesingsknoeiery in Zimbabwe ragfyn word.

Bykans ‘n maand voor die SAOG-afvaardiging wat ‘n ogie oor die verkiesing in Zimbabwe moes hou, verslag sal lewer oor die regverdigheid van die verkiesing in Zimbabwe, het pres. Jacob Zuma nare Bob reeds met sy oorwinning geluk gewens, en oud-pres. Thabo Mbeki het gevra dat die mense van Zimbabwe se keuse gerespekteer word.

Selfs onder die SAOG se regeringsleiers is daar nie eenstemmigheid oor hoe regverdig die verkiesing in Zimbabwe verloop het nie, met Botswana wat voorgestel het dat die verkiesing geoudit word. Verskeie Westerse lande, waaronder Australië, het gevra dat die verkiesing oorgehou word.

Die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-moon, het vroeër dié week in ‘n verslag oor onder meer Sirië die volgende gelys as voorvereistes vir n gelyke speelveld om spanning en moontlik konflik te voorkom: verseker grondwetlike beskerming; regverdige verkiesingsprosesse met deelname van alle sektore van die gemeenskap, die handhawing van menseregte en die bevordering van politieke pluralisme; om seker te maak dat die kommissie wat die toesig daaroor moet hou verantwoordbaar optree; die inbou van vroeë waarskuwingstelsels en die vermoë om op ongerymdhede te kan toeslaan en te voorkom.

Kortom, presies hoe onafhanklik is die Onafhanklike Verkiesingskommissie as dit nie spontaan op die misbruik van staatsfondse om die speelveld ongelyk maak, toeslaan nie?

In ‘n vorige nuuskommentaar,  Nuuskommentaar: Demokrasie verkrag deur magsmisbruik het Maroela Media reeds die vraag gevra of daar nie nou reeds afdoende tekens is dat die speelveld in Suid-Afrika met die oog op aanstaande jaar se verkiesing ongelyk gemaak word nie. Ongelukkig kom die aanduidings feitlik daagliks by dat dit wél ongelyk gemaak word, met die voetslepery van die Seriti-kommissie oor die wapen-skandaal ‘n voorbeeld.

Het die openbare uitsaaier iets oor die storm rondom die kospakkies uitgesaai? Indien nie, hoe verskil dit wesenlik van die ongelyke speelveld in Zimbabwe waar Zanu-PF tot vlak voor die verkiesing ‘n effektiewe mediamonopolie gehad het? En die vrye media word as die vierde, weliswaar nie-amptelike been van die demokrasie beskou.

Maar wie se plig is dit om die ooglopende diefstal, deur die misbruik van staatsfondse, onder die aandag van die skynbaar gesig- en gehoorgestremde OVK te bring, as die OVK nie self spontaan as onafhanklike kommissie optree nie? Heel tereg sal die burgerlike instellings wat gereeld die regering deur onder meer die howe tot orde roep, soos Outa, Solidariteit en AfriForum kan aanvoer dit is die domein van die politieke partye. Dit is immers die politieke partye wat tydens verkiesings waarnemers by stembusse het, en wat met elke verkiesing wavragte ongerymdhede na beheerpunte deurvoer, soos ‘n OVK-beampte wat na die stempunte gesluit het ‘n pak stembriewe in die stembus laat val dat dit eintlik “doef” maak, en dan bloot skouers optrek en sê sy mag ook mos gestem het. Met die klag waarvan later net mooi niks van gehoor word nie.

Maar nie alle ongerymdhede gebeur in en om die stempunte nie. Die kospakkies duik met elke verkiesing soos ‘n spook op.

Ongelukkig is dit nie so maklik vir politieke partye om op alles te reageer nie. Presies hoe gaan die kiesers reageer as ‘n opposisieparty se optrede veroorsaak dat die kospakkies as’t ware uit hul monde geruk word.? Of HOP-huise na ‘n ander gemeenskap gaan waar die politieke misbruik nie so ‘n teer punt is nie?

‘n Verkiesing word selde by op stemdag by die stembusse self gesteel. Die diefstal van ‘n verkiesing kom van ver af, wanneer die speelveld ongelyk gemaak word. Dit kan subtiel gebeur, of dit kan taamlik blatant gebeur wanneer blootgestelde gemeenskappe voortdurend gekonfronteer word met dreigemente dat hulle hul pensioene kwyt sal wees as hulle nie vir ‘n sekere party stem nie. Of dat daardie gemeenskap met die hout oog aangekyk sal word as poste beskikbaar word.

Presies hoe goed is SA se onderwysstelsel as onderbou vir die demokrasie as soveel jongmense vertroue in Julius Malema se party se ekonomiese selfmoordbeleid het? Hoe verskil dit van die Zim-kiesers wat oor die Zanu-PF en Mugabe se oorwinning feesvier en eufories glo hul land gaan nou ekonomies herstel – terwyl die aanduidings is dat die land is die sanksiemoeras gaan terugsak van voor 2008? Hoe verskil dit van die Duitsers wat heel demokraties Hitler nie net aan bewind gestel het nie, maar toegelaat het om die Weimar-grondwet met ‘n diktatuur te vervang? Kortom, kiesers wat deur propaganda oop dwaalspore gelei is kan deur die stembus hulle self en hul land erg in die voet gaan skiet.

Dit kan selfs nog meer subtiel kom in die vorm van die media wat blou moord blaas teen aanduidings van mediasensuur, maar in die praktyk self die demokrasie ondermyn deur nie die politieke pluraliteit weer te gee nie. Suid-Afrika se bedenklike plek op die persvryheidsindeks is immers deels toe te skryf aan die gebrek aan die toon van politieke diversiteit.

Danksy die internet is dit nou feitlik onmoontlik om ‘n verkiesing ongesiens te steel, soos wat tevore in Iran gebeur het, en nou ook weer in Zimbabwe aan die gebeur is (hoewel die internet in  dié geval nie al klikbek is nie), en optredes soos dié van Zuma en Mbeki hou die gevaar in dat mense hul vertroue, of minstens smaak, in die demokrasie en grondwet verloor.

Soos die spreekwoord in die politieke wetenskap lui: “Die demokrasie mag ‘n euwel wees, maar dis die beste euwel wat ons het.” Die grondwet mag vol gebreke wees, maar in die praktyk is dit wat ons het en dié wat omgee moet dit inspan om die beste moontlike resultate te lewer.

Die amptelike waghond is op die oog af nie baie wakker nie.

Wie gaan sorg dat die waghond ook leer om vir sy eie baas te blaf as dit nodig is?

Of het ons self in die posisie verval dat ons ‘n suksesvolle verkiesing, sensus en ander projekte meet aan die hand van ‘n “toelaatbare” foutfakor (margin of error) waar die ingesteldheid van uitnemendheid by die venster uitgevlieg het?

Is ons besig om ‘n rugbywedstryd te speel waar die een span so ooglopend sterker as die ander is, dat ‘n swak skeidsregter nie werklik ‘n verskil aan die uitslag maak nie? En waar ons eintlik net die stiefregter wil kruisig as ‘n swak beslissing een span groot skade berokken soos tydens ‘n promosie-relegasiewedstryd?

Die DA meen Gauteng is aanstaande jaar binne hul bereik, maar as die speelveld nie nou reeds gelyk gemaak word nie, gaan dit ‘n baie moeilike stryd wees. Agang wil graag van die grond af kom, maar sonder ‘n gelyke speelveld gaan die party aan baie gemeenskappe onbekend bly.

Dit is elke burger se plig om elke ongerymdheid aan die groot klok te hang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stoere Boer ·

Waar in Afrika was ‘n verkiesing ooit regverdig? Dit was nog nooit en sal ook nooit wees met die magsbehepte politici wat net die selfverryking sien ten koste van almal om hulle. Dit is ongelukkig in die meerderheid se gene en hul kieserskorps sien net die kort termyn voordele soos kospakkies. Kan nie vêrder as vandag dink nie

Paul ·

Maak hulle eers byna doodgaan van die honger en klim dan in met kospakkies wat ook stemme vir hulle beteken. Ons is almal ontwapen met ‘n rat voor die oë, anders was hier al ‘n burgeroorlog met al die bedrog en korrupsie wat ons magteloos moet aanskou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.