Nuuskommentaar: Rome brand en ons deel Coke-doppie-medaljes uit

Argieffoto ter illustrasie

Argieffoto ter illustrasie

Min dinge roep so hard “Piesangrepubliek” uit as wanneer ’n land begin Coke-doppie-medaljes uitdeel. Die medaljes wat die polisiekommissaris, Riah Phiyega, by die vorige minister van polisie, Nathi Mthethwa, gekry het, is ’n sprekende voorbeeld. Boonop het dié klugspul – eintlik ’n skandaal – aan die lig gekom toe die land deur ʼn paar opspraakwekkende moorde getref is.

Die “redes” vir die toekenning van Phiyega se medaljes (wat die redes vir die ordes en medaljes wat Idi Amin aan homself laat toeken het na goed-beredeneerde sinvolheid laat klink) dui onweerlegbaar op Piesangrepubliek-neigings. Dat sy dit boonop ontvang het, is kômmin.

–       Na slegs twee jaar in die polisie behaal sy die buitengewone prestasie om tien jaar diens te voltooi.

–       Met misdaadsyfers wat toeneem en ’n geploeter soos min voor die Marikana-kommissie , kry sy ’n medalje vir uitstaande diens.

–       Sy kry ’n medalje vir haar rol in die Wêreldbekersokkertoernooi – terwyl dit al lankal afgehandel was nog voor sy in die polisie se diens getree het.

–       Sy kry ʼn medalje vir die samesmelting van die 11 polisiedienste – ’n buitengewone prestasie gegewe dat dit haar aankoms in die polisie met 18 jaar voorafgegaan het, aldus die DA.

Waarmee kan sulke banaliteite vergelyk word? Om aan pres. Jacob Zuma ’n Spesiale Orde vir Skoon Administrasie en Stryd teen Korrupsie toe te ken? Terwyl die land sedert sy presidentskap met ongeveer 20 plekke op die korrupsiepersepsie-indeks agteruitgeboer het. Of om minister Angie Motshekga met die Skoolboekmedalje vir puik Logistiek te beloon? Of om aan Mac Maharaj die radio-aktiewe Tina Joemat-Pettersson-skoenpoetsmedalje toe te ken omdat hy braaf probeer om die onverkoopbare blink te poets?

Een spesifieke moord waarmee die onthulling saamval, is die moord op Senzo Meyiwa, kaptein van die Bafana Bafana. Dié nuus slaan internasionaal wyd. ’n Paar dae vroeër, en dit het met die teenwoordigheid van baie buitelandse joernaliste wat die Oscar Pistorius-vonnisverrigtinge bygewoon het, saamgeval. Dit val saam met nog ’n plaasmoord – op Johan Janse van Rensburg – wat vir die land tragies net nog ’n stukkie statistiek word, maar op die duur die land hard byt.

Dis nou afgesien van die babaverkragtings, moorde en bendegeweld.

Terwyl meer BBP-veiligheidswagte die land se buitengewoon groot  kabinet oppas as wat daar mense is wat die land se grense beveilig. Altesaam 5 378 polisiebeamptes bewaak die president en sy 35 ministers en 37 adjunkministers en hul huise. Dit, terwyl die gemiddelde Suid-Afrikaner ʼn lae intensiteit misdaadoorlog beleef waarin 17 068  mense van Maart 2013 tot Maart 2014 vermoor is, – 809 meer as die vorige tydperk, aldus die Afrikanerbond. Gelukkig is hulle wat in dele van die land woon waar hierdie blouligbendes maar selde oë wys.

Maar hoe lyk SA se posisie op die piesangrepubliek-indeks? Die mees betroubare indeks om dit te meet is die indeks wat as die indeks vir mislukte state bekend gestaan het, maar nou die indeks vir brose state genoem word. Die indeks werk “agterstevoor” deurdat die staat wat die nommer een posisie beklee (Suid-Soedan) die swakste vaar. Somalië is in die tweede plek. Suid-Afrika beklee die 115de plek uit die byna 180 lande wat gemeet is. Hiervolgens wil dit lyk of Suid-Afrika nie te sleg vaar nie, maar die byt is in die detail. Die gemiddelde telling wat Suid-Afrika kry vir ʼn verskeidenheid aspekte wat gemeet is, is 66,6 uit 100, waar 100 die swakste punt is wat gekry kan word. Suid-Afrika presteer dus ruim ondergemiddeld.

Om dit makliker te maak het Maroela die syfers in persentasies omgereken waar 100% puik is, en enigiets onder 50%’n druipsyfer verteenwoordig. In plaas van 66,6 vir die algehele punt, werk dit nou om dat Suid-Afrika daarvoor net 33,4% kry.

Die aspek waarin Suid-Afrika die swakste punt kry, is ongelyke ontwikkeling, met 7,7 uit 10. As “slaagsyfer” sou die land ’n netjiese 23% hiervoor kry.

Die tweede swakste is demografiese druk, gevolg deur vlugtelinge. Openbare dienste se “slaagsyfer” is 39%. Ander insiggewende druipsyfers is minderheidsgriewe (42%), armoede en ekonomiese agteruitgang (ook 42%), en die voortrek van die elite (44%).

Vir die regmatigheid (legitimacy) van die staat kry die land 50%. Vir menseregte kry Suid-Afrika darem 54%.

Die beste punt (68%) kry die land vir buitelandse inmenging… Hieroor is geen kommentaar nodig nie.

Net om ’n paar perspektiewe te stel – waar Suid-Afrika net 39% vir openbare dienste kry, kry Australië 79%.

En ja, soos op ander indekse, vaar Botswana beter as Suid-Afrika.

Baie is al geskryf oor Suid-Afrika se kreeftegang op nog ʼn waardevolle indeks, die innovasie-indeks, waar veral Suid-Afrika se wiskunde- en wetenskap-“prestasies” groot rede tot kommer is. En boonop baie moeilik reggeruk kan word weens die aftakelende rol van Sadou.

Maar wat gaan Phiyega doen?

Die minste wat verwag kan word, is dat sy die “medaljes” teruggee.

Daar is ook ʼn ondersoek na verskeie probleme binne die polisiediens waarvoor die huidige minister van polisie, Nathi Nhleko, ’n klop op die skouer verdien. Dit kan egter verwag word dat die ondersoekers hulle onder enorme politieke druk kan bevind, aangesien van die mense wat geïmpliseer word, soos Richard Mdluli en Phiyega, duidelik politieke beskerming geniet.

Uiteindelik kom alles weer daarop neer dat die belangrikheid van burgerlike instellings soos Solidariteit en AfriForum bewys word, wat uiteindelik ook die howe kan nader. Op 28 November moet beide Nhleko en Phiyega in die hof verskyn om redes aan te voer waarom hulle nie vir minagting van die hof tronkstraf of ’n boete opgelê moet word nie nadat versuim is om aan ’n hofbevel oor kol. Kobus Roos gehoor te gee. Roos was die fluitjieblaser oor wantoestande by misdaadintelligensie. Die saak word deur Solidariteit gedryf.

Dit lyk of Phiyega se kop kan rol, medaljes en al.

In landsbelang.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.