Nuuskommentaar: Russiese kernreaktors: Hier is die KERN van die probleem

Suid-Afrika se Koeberg-kernkragstasie

Suid-Afrika se Koeberg-kernkragstasie

Ontleders is nog besig om hul feite agtermekaar te kry voor reageer word op die onverwagse ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Rusland dat dié twee lande ’n ooreenkoms gesluit het waardeur Suid-Afrika na beraming meer as R500 miljard gaan opdok vir agt kernreaktors wat op Russiese tegnologie geskoei is. Die ooreenkoms sluit Russiese finansiering in. Is dit goeie nuus of gaan ons die e-tol-sage in ’n ander gedaante herleef?

Die storm het egter reeds begin. Terwyl die regering die “strategiese ooreenkoms” loof, het die DA aangedui dat hy die hof gaan nader vir die tersydestelling van die ooreenkoms omdat behoorlike tenderprosedures nie gevolg is nie.

Jan de Lange van Media24 berig ook dat kenners meen die koste kan uiteindelik dubbel beloop van die sowat R500 miljard wat nou beraam word, en dat die verbruikers hulle sal moet staal vir fris jaarlikse opwaartse aanpassings. Die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat twee jaar gelede voltooi is, sluit ook kernkrag as toekomstige opsie uit omdat die land dit nie kan bekostig nie. De Lange verdien ʼn pluimpie omdat hy die media so vinnig gerat gekry het om sy waghondfunksie oor die gebeure te laat speel.

Die ooreenkoms is veral onverwags omdat Suid-Afrika in Desember nog aangekondig het dat die fokus gaan skuif na hernubare energiebronne. Suid-Afrika is ryk aan son- en windkragpotensiaal, terwyl samewerkingsooreenkomste met lande aan die Kongorivier ook ’n enorme potensiaal bied – nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die streek.

Die agt kernreaktore se potensiaal moet ook in perspektief beskou word. Die Medupi- en Kusile-kragstasies, beide steenkoolkragopwekkers, sal saam 9 500 MW kan opwek. Volgens berigte sal die agt nuwe kernkragsentrales saam teen 2030 sowat 9 600 MW krag lewer, dus nét meer as die twee steenkoolkragsentrales saam. Dit lyk nie na gesonde sake doen nie. (Die bestaande Koeberg-kernaanleg voorsien in sowat 5% van Suid-Afrika se elektrisiteitsbehoeftes).

Uit die beriggewing wil dit ook voorkom of Suid-Afrika teen 2023 minstens ten dele reeds van dié nuwe kernenergie kan gebruik. Dan word egter aanvaar dat die regering die probleme met stakende werkers wat projekte tot in die oneindigheid in vertraag (en terselfdertyd enorme skade aanrig) binnekort onder die knie sal kry. Anders gaan Rusland sterk in die versoeking wees om sy eie werkers saam te bring vir die bou van die installasies.

Beide Suid-Afrika en Rusland word erg deur inflasie geteister. In Augustus het Rusland se inflasiekoers 7,6% beloop, maar voorlopige aanduidings is dat die Weste se sanksie teen Rusland reeds enorme opwaartse druk plaas. Terwyl dit kan beteken dat Suid-Afrika besonder baie sal moet terugbetaal aan die Russiese finansiering van die projek, kan hierdie inflasie-faktor die bestaande privaat inisiatiewe wat fokus op die opwekking van sonkrag en windkrag minstens moontlik gedeeltelik teen onbillike kompetisie van die nuwe kernkragtoetreding beskerm.

Dit lyk in hierdie stadium of die Russe die kernkragsentrales uit eie finansiering sal oprig en bedryf, en dat Eskom in wese die krag sal koop tot die finansiering verhaal is.

Dat die projek, as dit realiseer, baie werksgeleenthede sal skep, is ’n gegewe, mits dit nie die bestaande privaat inisiatiewe van skoon, hernubare bronne se mat onder hulle uitruk, en dalk selfs potensieel meer bestaande en toekomstige werksgeleenthede verlore laat gaan nie. Kernkragsentrales word tradisioneel langs die kus opgerig om seewater vir afkoeling te gebruik, terwyl veral sonkrag werksgeleenthede in die binneland skep. ’n Mens kan al klaar die land se ekoloë by wyse van spreke hoor opwarm oor die ligging van hierdie nuwe kernkragopwekkers.

Die blote feit dat Suid-Afrika nie van ’n erkende tenderprosedure gebruik gemaak het nie, laat dadelik vrae ontstaan of die land nie weer op ʼn omstredenheid soos met die wapentransaksie afstuur nie. Rusland word as die 127ste mees korrupte land ter wêreld beskou, terwyl die 72ste plek waarheen Suid-Afrika die afgelope aantal jare skouspelagtig getuimel het, ook nie juis baie vertroue vir transaksies met skoon hande inboesem nie. En dan is daar nog die hele Nkandla-affêre.

Net heeltemal te veel onbeantwoorde vrae hang in die lug, voor enige ontleder entoesiasties oor die aangekondigde projek van opgewondenheid sal op en af spring. Plaas ’n behoorlike, gewaarborgde sakeplan op die tafel, laat ʼn span kundiges die ooreenkoms met ’n fyn kam deurwerk om die mededingendheid daarvan teen ander potensiële leweransiers soos Frankryk opweeg, verskaf versekerings aan die privaat beleggers in son- en windenergie wat groot buitelandse lenings aangegaan op sterkte van waar hulle in die Nasionale Ontwikkelingsplan inpas, en sake lyk dan dalk tog rooskleurig.

Maar op die oomblik lyk dit of die regering nog nie genoeg uit die openbare verset teen e-tol en erg voordelige buitelandse beleggings (vir die beleggers) geleer het nie – veral waar die buitelanders dan nog besonder lonende kontrakte vir die bedryf ook losslaan nie.

Dit help ook nie dat Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, allerhande geluide maak wat klink of hy dit daarteen het dat die parlement sy rol moet kan vervul om politici te dwing om deursigtig te wees nie. As die parlement sy verantwoordelikheid om die politici verantwoordbaar te hou nie kan vervul nie, is die demokrasie in wese daarmee heen.

Verwag dus dat die burgerlike samelewing die hakskene behoorlik sal inslaan.

As pres. Jacob Zuma die Russiese beer se pels wil streel, kan dit immers nie (al weer) ten koste van die land wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hannelie ·

Ek sou eerder sê ‘n baie strategiese hawe tydens 3de wêreldoorlog. Poetin dink “uit die boks”.

Louis van Niekerk ·

Die blote feit dat Suid-Afrika NIE van ’n ERKENDE tenderprosedure gebruik gemaak het nie, laat dadelik vrae ontstaan of die land nie weer op ʼn omstredenheid soos met die wapentransaksie afstuur nie. Rusland word as die 127ste mees korrupte land ter wêreld beskou, terwyl die 72ste plek waarheen Suid-Afrika die afgelope aantal jare skouspelagtig getuimel het, ook nie juis baie vertroue vir transaksies met skoon hande inboesem nie. En dan is daar nog die hele Nkandla-affêre. KORRUPSIE

Die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat twee jaar gelede voltooi is, sluit kernkrag as toekomstige opsie uit omdat die land dit nie kan bekostig nie. Vra ek wat beteken die nasionale ontwikkelingsplan vir hierdie regering nou eintlik.

Die Medupi- en Kusile-kragstasies, beide steenkoolkragopwekkers, sal saam 9 500 MW kan opwek. Volgens berigte sal die AGT nuwe kernkragsentrales saam teen 2030 sowat 9 600 MW krag lewer. Die prys van krag sal die hoogte in skiet in nog minder belegging in SA

Kenners meen die koste kan uiteindelik dubbel beloop van die sowat R500 miljard wat nou beraam word, en dat die verbruikers hulle sal moet staal vir fris jaarlikse opwaartse aanpassings. Wie gaan die skuld betaal. Die belastingbetalers soos ons nou Nkandla betaal

As gevolg van ons arbeidsprobleme in die land gaan Rusland sterk in die versoeking wees om sy eie werkers saam te bring vir die bou van die installasies. Rusland gaan dit nie verniet doen nie dit is deel van werkskepping in rusland

As pres. Jacob Zuma die Russiese beer se pels wil streel, kan dit immers nie (al weer) ten koste van die land wees nie. JZ kos ons. Weer hy en sy vriende van BRICS

Deon de Swardt ·

Ek vertrou hierdie initiatief sal die FRACKING projek kelder ?

Jakoos ·

As julle en julle geliefde DA die proses om meer kragsentrales op te rig gaan vertraag en die krag al hoe meer en al hoe langer afgaan – veral in die winter – sal ons julle braai oor die kole van verkiesingstyd.

Hierdie stories oor herwinbare bronne soos son- en windstelsels klink mooi, maar die werklikheid is dat die dinge sukkel om behoorlik aan die gang te kom en self bykomende probleme het – soos die windstelsels wat in dele van die VSA reeds reenvalpatrone beinvloed.

Kernkrag is eenvoudig die enigste oplossing vir die toekoms – en eintlik moet die ANC gelukgewens word dat hulle hierdie dinge aan die gang gesit het. Ek vermoed die enigste ouens wat rerig kan kla is die Chinese want hulle sit saam met SA en Rusland in brics.

O, en nou weet ons wat ou Zuma so rukkie gelede so lank in Rusland gaan doen het. Was toe nie net ‘n vakansie nie. Gee darem ‘n bietjie erkenning waar dit nodig is!

Chris ·

Die Karoo is een van die plekke met die meeste son-ure in die wêreld. Dit is groot genoeg om vir meer as ‘n stunning 16 000 000 MW aan sonkrag te produseer. Dus dit is maar net watter tipe krag jy wil gebruik…

En weet jy wat die Russiese kernkragtegnologie die wêreld gebring het? Die kernramp van Tsjernobyl byvoorbeeld… En talle van lekkasies met kernreaktors, wat almal verswyg is en steeds verswyg word. Talle stede wat nog steeds verbode is om die lekkasies onder die mat in te skuif. En jy wens steeds hulle inferieure tegnieke?! Die weste het 25 jaar na die val van die Berlynse Muur nog nie sy kernkraggeheime met Rusland gedeel nie, want dieselfde tegnieke word mos op nukleêre onderseërs gebruik.

Buitendien is die strategie van Rusland teenoor Suid-Afrika niks anders as sy eie plekke koop, om seker te maak dat die ANC en Suid-Afrika in die rytjie lande met muishondregimes bly loop… Suid-Afrika mag mos nie doen wat Brasilië tans doen. Want Brasilië het in die gat van die Westerse-Russiese boikot gespring en raak nou vriende met die weste…

Jakoos ·

Al gehoor van Three Mile Island, die Amerikaners se groot kernskrik? Al gehoor van die ander probleme wat gelukkig betyds ontdek is? Al gehoor van die Japanese se probleme na die tsunami. Daar Fukkinsjima kernsentrale is glo met groot Amerikaanse hulp gebou.

Al gesien en gehoor dat die Russe se vuurpyle en tegnologie al vir ‘n hele klomp jare gebruik word om Amerikaners na die ISS te neem – en dit nog ‘n paar jaar kan duur voordat die Amerikaners weer ‘n bruikbare stelsel het?

Nee, ek dink nie die Russe is strate bo die Amerikaners in tegnologie nie, maar ek vermoed hulle kon die beste prys en kontrak bied. Persoonlik sou ek verkies het om die Franse se tegnologie te bekom, maar dit was seker te duur. Ons sal seker later meer hoor.

Oopogies, krag gaan duurder word – veral met steenkoolkragstasies – of jy en ek nou daarvan hou of nie.

herrie ·

Ek het onlangs so in die verbygaan ‘n artikel gesien oor die impak van goedkoper sonkrag. Ek het dit ongelukkig nie toe kon lees nie, en kry dit nie weer nie. Wat ek wel uit vorige berigte onthou, is dat die sonkragtegnologie al dramaties baie goedkoper geword het. Ek glo regtig vir dit wat ons nou by Rusland kry, kon ‘n mens ‘n enorme sonkragbedryf teen dieselfde prys kon oprig. Die wêreldbank ens se lenings is teen ‘n relatiewe lae rentekoers. Trouens, Duitsland tel nie onder die boonstes van die 20 rykste per capita lande nie, weens die baie geld wat Duitsers verloor weens lae rentekoerse in hul land. Vir die kernkrag skiet Rusland effektief die geld voor. Weens Rusland se hoë inflasiekoers sal die rentekoers ook taamlik hoog wees.

Hannelie ·

Genade Jakoos , waar dink jy gaan die geld vandaan kom. Uit jou sak natuurlik , wel mits jy belasting betaal. SA se fiskalebeleid is ook nil en void. Hoeveel meer kan SA nog bekostig? Was Rusland se bod hoog genoeg om Zuma se Nkandla blaps te delg? Aanstons gaan ons nie eens geld in die sak hê om enige krag te betaal nie.

3 de Wêreld oorlog……..SA is ‘n uiters strategiese land…..Rusland is nie só dom nie.Poetin se neus is ook nie so plat nie…..hy kan baaaie verder dink.

Anto ·

Dit klink baie makliker as elke mens net een kind het; dan het ons nie nog krag nodig nie. Hoekom moet ons 7 miljard wees om te oorleef?

Oopoggies ·

Jakoos … wanneer die krag so duur raak dat jy self jou krag maar afsny dan sal ons julle toe oggies maar oor die kole braai …

Gert Olivier ·

Wat het van die korrelbed kern kragsentralis geword wat op elke dorp opgerug sou word wat nie baie water nodig was nie??????????

frederik ·

Die gevaar van kernkrag word alweer onderskat die hele wereld beweeg weg van kernkrag.
Wat het geword van sonkrag en windkrag waarvan ons genoeg het.Dit moet net steun van regering kry.

Jakoos ·

Herman, gaan kyk by

http://en.ria.ru/world/20140922/193174210/Russia-South-Africa-Agree-Cooperation-in-Nuclear-Energy.htm

na die Russe se verklaring oor die ooreenkoms.

Dit is duidelik dit is ‘n voorlopige samewerkingsooreenkoms en nie ‘n finale kontrak nie.

Frederik, jy’s verkeerd. Die groot kenners besef kernkrag is uiteindelik die beste, die skoonste en die doeltreffendste. Sonkrag en windpompe sal baie help in veral afgelee gebiede en die moontlikheid van termale (termiese of vulkaniese) kragbronne is ook groot, maar dalk nie hier by ons waar daar nie baie sulke bronne is nie.

DJis, maar julle kan darem ‘n klomp twak in ‘n kort tyd kwytraak!

Herman Toerien ·

Twee sake. Gistermiddag laat, omtrentrent 24 uur na die nuus gebreek het, het die regering laat weet die Russe se verklaring was voortydig, en dat die hele kwessie net deel van voorbereidings vir ‘n tenderproses was. Vanoggend kry ek ‘n e-pos van ‘n vriend met ‘n skakel waar die Russe se kant van die saak gestel word. Het nog nie kans gehad om daarna te kyk nie. Ek sal graag wil sien hoe die Russe se verklaring lyk in vergeleke met min Tina Joemat-Pettersson se weergawe soos in Reuter en ANP ens aangehaal. Wie was nou eintlik voortyd. Sodra ek kan kry sal ek iets hieroor saamstel en vir Maroela instuur. Anders sal dit more-oggend deel van die nuuskommentaar wees. Maar vandag eers, geniet erfenisdag en ons erfenis van braai (vir dié wat nog ‘n vleisie oor die kole, of selfs die kole, nog kan bekostig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.