Nuuskommentaar: Rustenburg word Rampstenburg

Rustenburg. Foto: SunCity.hotel.co.za

Rustenburg. Foto: SunCity.hotel.co.za

Tragiese verhale ontvou in Rustenburg en omstreke wat die ergste deur die voortslepende AMCU-staking geraak word. Die stakende mynwerkers kry nou al maande lank nie salaris nie, en die koopkrag wat dit in die streek gebring het, is met uitkringende effek besig om ‘n vernietigende en hartverskeurende uitwerking te hê.

Die voedingskemas wat by laerskole begin is, en die 300 voertuie wat banke in een week teruggeneem het, vertel ‘n verhaal, maar kan kwalik die parallelle verhaal van benoudheid, moedeloosheid, magteloosheid en angs wat in mense se harte geskryf word verwoord.

“Almal van kontrakteurs tot verskaffers word geraak. As daar nie geproduseer word nie, is daar nie werk nie, en kry die mense nie geld nie,” het Maroela Media Maandag berig.

Ondernemings sluit, en mense wat glad nie regstreeks by die mynbedryf betrokke is nie, verloor hul werk.

“Die mense is op moedverloor se vlakte. Ek weet van iemand wat onlangs selfmoord gepleeg het, omdat alles uit beheer raak. As die staking nie gou tot ʼn einde kom nie, gaan hier ʼn groot krisis ontstaan, indien dit nie al klaar te laat is nie,” is verder berig. Lees meer hier.

Die dorp se sakekamer het Dinsdag gesê die 80 000 stakers hou 700 000 inwoners gyselaar. Lees meer hier.

Dwars oor die wêreld is daar spookdorpe – eens florerende dorpies met selfs teaters en kegelbane soos die spookdorp Kolmanskop buite Swakopmund. Waar die lewe eens gepols het waai die wind nou woestynsand deur murasies wat geleidelik weggevreet word der die bytende sandkorrels.

Die dorpe floreer solank die bodem lewer wat tot die dorp se ontstaan gelei het.

Maar Rustenburg en omgewing se bodem het nie die hand toegemaak nie. Daar is steeds platinum en ander waardevolle minerale in die Bosveldstollingskompleks – na beraming genoeg om vir sowat 900 jaar in die wêreld se behoeftes te voldoen. Maar dis ‘n duur proses waar gereeld weerskante van die winsmarge gemyn word.

Amcu probeer egter meer as platinum en ander minerale tap – die vakbond probeer ook bloed uit ‘n klip tap om sy werwingsbeloftes aan sy lede gestand te doen. Die einste lede wat nou reeds maande sonder inkomste sit, en met enige haalbare ooreenkoms wat bereik mag word, nou baie jare gaan neem om die verlies aan salarisse en bonusse in te haal.

Die staking plaas ook druk op die nasionale begroting wat nie die mynbelasting waarop gereken is kan skep nie.

Maar as ‘n onderneming eers gesluit is, as iemand eers sy werk verloor het, is die skade dikwels onomkeerbaar. Onlangse statistieke wys daarop dat mense bo 55 internasionaal baie moeilik weer werk kry. Selfs al beteken dit die verlies van hul kundigheid, en het hulle geen aandeel daarin gehad dat hulle sonder werk sit nie. En agter so ‘n persoon word ‘n hele strook van ontbering gelaat.

Daar is doodgewoon nie ruimte vir vakbonde soos Amcu nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Naomi Pasino ·

Staan Saam Rustenburg is ‘n artikel21 maatskappy en ons benodig GROOT ASB kos. Nie bederfbare kos. Selfs seep, tande pasta en seeppoeier is vir ons mense ‘n “luxury” Ons het mense wat op straat sit met kinders en ons het nie genoeg “shelters” nie. Ons help met kos en klere ens. maar selfs die mense wat altyd gehelp het kan nie meer nie. Julle kan my kontak of ons kontak deur ons facebook GROEPE (nie die gewone blad nie) Staan Saam Rustenburg en Staan Saam Rustenburg Community Watch. Juanita 083 444 6391 whatsapp. Ons kan selfs vir julle ‘n bank rekening nommer gee. Dit is ‘n Trust rekening en word streng ge-audit

Anon ·

This is very tragic, I will be one of those closing my business, due to the on going strike, I have lost everything, lost my home and have already sold of my contents and have contemplated suicide.There are not many jobs left in Rustenburg at this moment.Thank you Maroela for increasing awarness of how the strike is affecting us.God bless us all!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.