11 plaaswerkers in De Doorns in hegtenis geneem

Die polisie het Maandag 11 stakende plaaswerkers in De Doorns in die Wes-Kaap in hegtenis geneem.

Kolonel André Traut, ʼn polisiewoordvoerder, sê geweld het Maandagoggend uitgebreek toe ʼn groep van nagenoeg 80 werkers in die omgewing saamgekom het en die situasie is glo steeds spanningsvol.

“Die groep was gewapen met pangas en knopkieries en het werkers geïntimideer en hulle verhoed om te gaan werk,” het Traut gesê. Na wat verneem word, moes die polisie met rubberkoeëls op die oproerige skare losbrand.

Volgens Koos Grobler, woordvoerder vir die ANC wetgewer in die Wes-Kaap, het ʼn ANC-raadslid gesê dat die polisie groepe van vyf mense wat saam loop opbreek en dat polisiehelikopters, en privaathelikopters in die gebied rondvlieg.

Agri Wes-Kaap doen ʼn beroep op die plaasarbeiders om na die werk terug te keer, aangesien die tafeldruifseisoen nou in volle swang is.

Gesprekke tussen die minister, die vakbondfederasie Cosatu en plaasverteenwoordigers het oor die naweek plaasgevind.

Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris van Cosatu, het gesê die werkers het ʼn aanbod van R80 per dag verwerp. Volgens Ehrenreich het werkers in Mpumalanga ook begin staak. Werkers het glo gesê hulle het gehoor Cosatu sal hulle verteenwoordig, maar meeste van hulle word nie deur Cosatu verteenwoordig nie.

Mildred Oliphant, minister van arbeid, is tans by ʼn konferensie oorsee.

Plaasarbeiders, wat tans tussen R60 en R90 per dag verdien, dring aan op ‘n daaglikse loon van R150. Ses betogers is verlede week in hegtenis geneem nadat sowat 30 hektaar wingerde tydens die betogings afgebrand is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.