AfriForum ontbloot ongerymdhede in Madibeng-verslag

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Donderdag beweerde ongerymdhede in ʼn verslag oor die Madibeng-munisipaliteit, wat onder andere Brits en Hartbeespoort bestuur, blootgestel.

AfriForum het onlangs ʼn verslag van die ministeriële taakspan ontvang wat deur Richard Baloyi, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, in Februarie voltooi is. Die verslag, wat in Maroela Media se besit is, dui duidelik aan dat daar finansiële en kriminele ongerymdhede in munisipaliteit plaasvind.

“Die verslag is in Mei deur die minister aan die senior bestuur by die Madibeng-munisipaliteit gestuur. Sedert die verslag aan die bestuur oorhandig is, is daar nog geen aksie geneem om die ongerymdhede aan te spreek nie,” het Ian Cameron, AfriForum se organiseerder in Noordwes, tydens ʼn perskonferensie in Hartbeespoort gesê.

AfriForum het dus self besluit om die verslag van die taakspan aan raadslede, die media en publiek bekend te maak aangesien hulle van mening is dat die munisipaliteit die verslag wil toesmeer.

Volgens Cameron het dienslewering van die munisipaliteit dramaties agteruit gegaan en word belastingbetalers se geld gemors om “kriminele en finansiële” ongerymdhede te befonds.

Cameron het minister Baloyi versoek om teen die skuldiges wat in die verslag uitgewys is op te tree, en dat ʼn sekere mate van provinsiale ingryping moet plaasvind.

Die verslag stel voor dat kriminele sake geopen word by die Suid-Afrikaanse Polisiediens teen Monde Juta, munisipale bestuurder, Andrew Modise, hoof van korporatiewe dienste en Xola Magwala, hoof van IT asook Buti Makhongela, speaker van die raad.

Die taakspan-verslag het gesê Juta, Modise en Magwala staan aan die stuur van finansiële wanpraktyke binne die munisipaliteit en is betrokke by die toesmeer van kriminele aktiwiteite. Volgens die verslag fasiliteer en skep hulle ʼn omgewing waarin korrupsie kan floreer.

Cameron het gesê dat AfriForum ʼn klag van bedrog by die Nasionale Vervolgingsgesag gaan indien om Makhongela te vervolg, aangesien hy die verslag wat aan die raad voorgelê is gemanipuleer het.

Maroela Media wag vir terugvoer van die munisipaliteit oor die beweringe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.