Afrikaanse vraestelkrisis: Unisa wíl studente help

Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Foto: Izelle Jacobs / Unisa

Unisa sê hy wil ʼn oplossing vind wat in die beste belang van die studente sal wees, nadat sommige vraestelle by dié universiteit  nie in Afrikaans beskikbaar was nie.

Die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) het reageer nadat AfriForum Jeug Woensdag ’n tweede klagte by dié universiteit se eksamenraad ingedien het oor studente, wat ingeskryf is in Afrikaans, sommige van hul vraestelle in Engels moes aflê omdat Afrikaanse vraestelle nie beskikbaar was nie.

Martin Ramotshela, die woordvoerder van Unisa, het Woensdagmiddag aan Maroela Media gesê hulle neem kennis van die probleem oor die beskikbaarheid van sommige Afrikaanse vraestelle en het aangedui dat hulle AfriForum Jeug se poging waardeer om die universiteit oor die probleem in te lig. “Ons is tans besig om die betrokke partye te raadpleeg om ‘n oplossing te vind wat in die beste belang van die studente sal wees,” het Ramotshela gesê.

Ramotshela het dit benadruk dat dit die universiteit se beleid is om vraestelle in Engels en Afrikaans beskikbaar te maak, aangesien dit die enigste twee tale is waarin daar tans by Unisa onderrig word.

“Unisa diskrimineer glad nie teen die Afrikaanse taal nie. Die probleem met die vraestelle het voorgekom weens probleme met die druk van sommige modules se vraestelle. Daar was geen kwaadwillige bedoeling aan die kant van die universiteit nie.”

Hy het gesê Unisa verbind homself om regstellende stappe te neem in ‘n poging om die betrokke studente te help. “Die betrokke studente kan ‘n ander assesseringsgeleentheid toegestaan word, teen geen ekstra koste nie, indien hulle dit versoek. Hulle kan weer die eksamen aflê tydens die volgende amptelike eksamensessie.”

“Ons moedig die studente wat hierdeur geraak is om so gou as moontlik met die universiteit te skakel om die besonderhede van die betrokke modules te verskaf. Ons sal dan direk met die betrokke studente die pad vorentoe bepaal.”

Maroela Media het vroeër berig die studente het al hulle studiemateriaal regdeur die jaar in Afrikaans ontvang en het gevolglik vir die eksamen voorberei in Afrikaans. Die studente is egter onkant betrap toe daar in sommige modules net Engelse vraestelle beskikbaar was in eksamenlokale. Meer as die helfte van die studente wat onverwags die eksamen in Engels moes aflê, het nie die eksamen geslaag nie en kan dus nie graad vang aan die einde van die jaar nie. Dit verhoed hulle nou om suksesvol vir werk aansoek te doen. Lees meer hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JB ·

Nou wanneer is die “volgende amptelike eksamensessie”? As dit eers volgende jaar is, is die studente in elk geval benadeel!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.