Amcu-betoger glo deur polisie doodgeskiet

Stakende Amcu-lede van Lonmin by Wonderkopstadion Foto: @thembaelvis, Twitter

Stakende Amcu-lede van Lonmin by Wonderkopstadion Foto: @thembaelvis, Twitter

ʼn Werker van Anglo American Platinum is Vrydag tydens betogings by die myn se aanleg naby Northam in Limpopo glo deur die polisie doodgeskiet, het die SAUK berig.

Die man was ʼn vakbondverteenwoordiger van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu).

Die polisie het aan die SAUK gesê hulle het hulself probeer verdedig toe hulle aangeval is. Hulle was glo onseker of polisiebeamptes of veiligheidswagte die doodskoot geskiet het.

Amcu-werkers beweer hulle het gesing en was op pad na ʼn byeenkoms waar hulle glo terugvoer van hul leiers sou kry toe die polisie met rubberkoeëls, skokgranate en lewendige ammunisie op hulle losgebrand het.

Verskeie stakende mynwerkers is al, sedert die staking ʼn paar weke gelede begin het, in verband met geweld en intimidasie in hegtenis geneem. Die platinumsektor gaan gebuk onder die beskermde Amcu-staking. Amcu-lede van Amplats, Impala Platinum en Lonmin het op 23 Januarie begin staak. Die vakbond eis ʼn basiese salaris van R12 500 per maand vir myners.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) fasiliteer gesprekke tussen platinumvervaardigers en die vakbond. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.