Amcu-staking: “Lonmin het busse gestop”

Stakende mynwerkers by Marikana. Foto: EWN / Twitter

Stakende mynwerkers by Marikana. Foto: EWN / Twitter

Amcu het Donderdag die Lonmin-myngroep se bestuur daarvan beskuldig dat hulle busse gestop het wat stakende mynwerkers na die Wonderkop-stadion in Marikana moes vervoer om deel te neem aan die eerste dag van ‘n loonstaking by platinummyne in Noordwes.

“Die myn se bestuurders het busse verhoed om ons werkers op te laai en hulle na die stadion toe te bring,” het Jack Khoba, voorsitter van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) by Lonmin, beweer. “Ons het dit egter reggekry om alternatiewe planne te maak.”

Nagenoeg 2 000 stakende werkers by Lonmin in Marikana, Anglo American Platinum (Amplats) en Impala-myne, drom by die stadion saam en dring aan op ʼn maandelikse intreesalaris van R12 500. Sommige lede het met stokke en sambokke opgedaag. Die polisie deursoek alle voertuie wat die stadion binnegaan.

Khoba het teen 12:00 gesê die vakbond het nog niks van die werkgewers gehoor in verband met hul eise nie.

“Ons sal aanhou om te staak totdat daar aan ons eise voldoen word.”

Khoba het belowe dat die staking vreedsaam gaan wees. Hy sê die lede is nie gewelddadig nie en sal nie diegene intimideer wat wel werk nie.

“Niemand het enigiemand gedreig nie. Niemand het gesê dat diegene wat werk doodgemaak gaan word nie. Amcu maak nie mense dood nie.”

Khoba het egter diegene wat nie staak nie gewaarsku om nie naby die stakers te kom nie.

“As ʼn rot wil gaan werk, laat hulle. Maar hulle moet nie voor ons loop terwyl ons sing en dans nie,” het hy gesê.

Khoba het ook gesê dat beweringe dat daar spanning in die vakbond is, onwaar is. “Amcu is steeds verenig. Die vakbond groei elke dag. Daar is geen verdeeldheid in Amcu nie.”

Lees ook:
Stakende mynwerkers kom by Marikana-stadion byeen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

At ·

“As ʼn rot wil gaan werk, laat hulle. Maar hulle moet nie voor ons loop terwyl ons sing en dans nie,” het hy gesê.

Hierdie woorde is n duidelike waarskuwing dat mense wat wel wil gaan werk definitief in gevaar verkeer.

Nee wat, AMCU probeer nou sy stempel op n harde manier afdruk ten koste van die hele land en sy ekonomie (wat daarvan oor is).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.