‘ANC kan nie vertrou word’: VF+

Die ANC kan nie vertrou word om ʼn skikking te onderhou waarvolgens hulle onderneem het om hulle lede aan te moedig om nie “Skiet die boer” te sing nie, het die Vryheidsfront Plus gesê.

“Die Vryheidsfront Plus sou ʼn hofbesluit verwelkom het in die Malema-haatspraaksaak aangesien dit duidelikheid sou bring en afdwingbaar sou wees,” het Pieter Groenewald, parlementere leier van die VF+, in ʼn verklaring gesê. “Die ANC kan nie vertrou word met die ooreenkoms nie.” Die ANC, AfriForum en TLU-SA het gister ʼn skikkingsooreenkoms onderteken in die Julius Malema-haatspraaksaak waarvolgens die ANC erken dat sekere woorde in sekere struggle-liedjies as kwetsend beskou kan word. Die ANC het hom ook daartoe verbind om om sy lede aan te moedig om nie “Skiet die boer” te sing nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dié organisasie baie tevrede met die ooreenkoms wat bereik is. “AfriForum se optrede was van die begin af daarop gemik om te verhoed dat kwetsende liedjies oor Afrikaners gesing word. Hierdie ooreenkoms, waarin die ANC homself in ʼn hofbevel gaan verbind om die gebruik van kwetsende woorde in liedjies te vermy, is presies wat AfriForum wou bereik,” het Kriel gesê. Volgens Kriel beteken dié ooreenkoms dat die lang pad wat AfriForum en TLU SA met regsprosesse in die howe moes volg om uiteindelik by ʼn sinvolle ooreenkoms uit te kom, beslis die moeite werd was. Kriel het daarop gewys dat die ooreenkoms van historiese belang is, aangesien dit die eerste keer sedert 1994 is dat die ANC en instellings vanuit minderheidsgemeenskappe skriftelik ʼn politieke ooreenkoms aangaan rakende aangeleenthede wat minderhede ten nouste raak.

Die ooreenkoms behels onder meer dat die:
• ANC en Malema erken dat sekere woorde in sekere struggle-liedjies as kwetsend en skadelik deur lede van minderheidsgemeenskappe ervaar kan word;
• ANC en Malema onderneem om hulle onderskeie ondersteuners en leierskap aan te raai en aan te moedig om met selfbeheersing op te tree om die ervaring van sulke kwetsing te vermy;
• partye ooreengekom het dat dit van kritiese belang is om wedersydse erkenning en respek te toon vir die reg van alle gemeenskappe om hulle kulturele erfenis en vryheid te vier en te beskerm; en
• partye hulle verbind het tot ʼn voortgesette formele dialoog tussen die leiers van die ANC, AfriForum, TLU SA en ander belanghebbendes om wedersydse begrip vir hulle onderskeie kulturele erfenisse en aspirasies te bevorder.

Die hoogste hof van appèl in Bloemfontein sal Donderdag genader word om die skikkingsooreenkoms ʼn hofbevel te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.