Apple moet help met Oscar-moordsaak

Pistorius in die Pretoria-landdroshof tydens sy borgaansoek in Februarie. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die polisie moet glo die hulp van die Apple-maatskappy inroep om toegang te bekom tot een van Oscar Pistorius se selfone nadat hy glo die foon se PIN-kode vergeet het.

Pistorius kan glo nie die viersyferkode onthou wat nodig is om sy iPhone te ontsluit nie, berig The Mail. Dit is dieselfde selfoon wat glo gebruik is die aand toe Pistorius se meisie, Reeva Steenkamp, geskiet is.

Dié iPhone 5, asook drie ander selfone, is ná Steenkamp se moord op die badkamervloer in Pistorius se huis in die ooste van Pretoria gevind.

Lt.gen. Vineshkumar Moonoo, hoofondersoekbeampte in die moordsaak, het aan die publikasie gesê Pistorius beweer hy kan nie die kode van die foon onthou nie. “Ons kan gevolglik nie toegang tot die foon bekom nie en dus nie die boodskappe sien wat die aand van die voorval gestuur of ontvang is nie,” het Moonoo gesê.

“Die inligting is noodsaaklik in ons ondersoek en Apple-tegnici in Amerika is die enigste mense wat ons kan help om toegang tot dié inligting te kan bekom.”

“Ek kan nie sê dat Pistorius se geheueverlies agterdogtig is nie, maar die selfoon was beslis in gebruik tot en met die tyd van die voorval,” het hy bygevoeg.

Pistorius is tans uit op borgtog. Sy moordverhoor begin 19 Augustus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.