Baba Chloe se ouers glo by grafsteen gedreig, gevloek

Henry Laney wys die foute op die grafsteen uit

Chloe Laney se ouers, Henry en Corlia Laney, het lank gespaar om vir hul “prinsessie” die beste grafsteen te kry, maar hulle is op die ou end getraumatiseer gelaat.

ʼn Groep van tien mans wat die grafsteen vandeesweek moes oprig, het Chloe se ouers glo by die graf met onder andere ‘n spies gedreig.

Die 17 maande oue Chloe is op 29 Desember verlede jaar oorlede ná ʼn lang stryd. ‘Baba Chloe’ het mense se harte geroer en daar is landswyd vir haar gebid. Haar begrafnis was op 4 Januarie in Riebeeckstad in die Vrystaat.

“Chloe se grafsteen sou Donderdagoggend om 10:00 opgerig word, maar ná baie verskonings het die plek wat haar grafsteen gemaak het, eers teen 14:15 opgedaag. Daar was krapmerke op die blad,” het Corlia Vrydag aan Maroela Media gesê.

“Die blad is toe opgerig, maar dit was foutief. Hulle het gesê hulle sal dit terugvat en ʼn nuwe blad maak. Vanoggend (Vrydag) is ons weer graf toe. Nadat die blad en kopstuk opgerig is, sien ons toe dat die skrif skeef gedruk is en ook nie in die middel gedruk is nie. Henry het ook uitgewys dat die sproeiwerk verkeer gedoen is. Hulle het ook nie Chloe se foto geplaas soos wat ons dit wou gehad het nie,” het Corlia gesê.

Volgens Corlia het die voorman, wie se naam onbekend is, sarkasties voorgekom en hy en nege helpers het glo aggressief geraak, waarna die egpaar glo met ʼn spies gedreig en gevloek is. “God was by ons, anders was ons dood.”

“Alles is daarna afgehaal en haar graf lyk soos ‘n verlate plek. Dit is haar tweede verjaarsdag en sy het nou nie ʼn grafsteen nie,” het Corlia bygevoeg. “Chloe se verjaardag is Sondag. Ek het spesiaal gereël dat ons familie en vriende Sondag om 10:00 mekaar by die graf sal ontmoet. Nou sal ons dit nog steeds doen, ons gaan ballonne en lanterns in die lug op stuur.”

Corlia het mense versoek om vir hulle te bid en om Sondag ʼn kers te brand uit eerbied vir hul “skoenlapper engelkind prinsessie”. “Ons harte is nog steeds verpletter en baie seer. Ons mis haar ongelooflik baie. Al wat ons wil hê is dat sy net die beste moet kry soos altyd.”

Volgens Corlia is hulle nog te getraumatiseer en weet sy nie of hulle ʼn klagte teen die mans by die polisie aanhangig gaan maak nie.

Bertus Naudé, die eienaar van die maatskappy waar die grafsteen vervaardig is, het aan Maroela Media gesê hy wil nie by ʼn moddergooiery betrokke raak nie. Hy het gesê hy beskou die saak as afgehandel nadat hy en Henry dit bespreek het. Hy het gesê daar was foute aan albei kante en wou nie verder oor die voorval uitbrei nie.

Lees ook:
Baba Chloe: Begrafnisreëlings bekend
Baba Chloe oorlede
Baba Chloe word van ventilator gespeen
Ouers vra gebed vir siek dogtertjie voor troue

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

karin Naude ·

Goeie dag

Ek hoop dat die feite wat u publiseer bevestig is deur al die betrokke party van hierdie aangeleentheid. Hierdie is n’ baie emosionele saak en dit word geheel en al uit verband geruk. Ek wonder maar net wat die nut hiervan gaan wees. Volgens my bron en die prok betrokke het die twee partye die saak hanteer en afgehandel. Ek hoop van harte dat ons hierby kan berus , terwillle van vrede en die nagedagtenis van die eintlike persoon van belang “Chloe Laney”

Vriendelike groete

Barend Kruger ·

Ek glo Maroela Media bo verdenking is. Hulle is ‘n Afdeling van Solidariteit en die sal niks duld wat nie gestaaf kan word nie. Vertrou dus in Maroela media se nuus en artikels, hulle doen niks halfmas nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.