BBP-bestuurders moet doen wat BBP sê, hoor hof

Thomas Ferreira. Foto: Facebook

Thomas Ferreira. Foto: Facebook

Joseph Motsamai Semitjie, die lid van die BBP-eenheid van die polisie wat die BMW X5 bestuur het wat  Thomas Ferreira in November 2011 op sy motorfiets getref het toe dit oor ‘n rooi verkeerslig gery het, het nie ’n gevorderde bestuurskursus voltooi nie. Die hof het egter gehoor dat ’n gevorderde bestuurskursus nie verpligtend is vir BBP-motorbestuurders nie.

Semitjie se verhoor is gister in die landdroshof in Krugersdorp voortgesit. Hy word van roekelose bestuur en nalatigheid aangekla omdat hy nagelaat het om Ferreira, wat ernstige kopbeserings in die ongeluk opgedoen het, te help.

Sersant Tshepo Lethlathle, een van Semitjie se kollegas, het getuig dat dit ’n BBP-bestuurder se mandaat is om die BBP veilig na hul bestemming te vervoer en die motor se blouligte aan te skakel as die BBP dit versoek. Op ’n vraag of dit vir ’n BBP-bestuurder wettig sou wees om ’n rooilig te kruis, het Lethlathle gesê die bestuurder behoort ander voertuie te waarsku en seker te maak dit is veilig voor hy die kruising oorsteek.

Lethlathle het ook oor Humphrey Mmemezi, die destydse LUR vir plaaslike regering en behuising en die BBP wat Semitjie op die dag van ongeluk vervoer het, getuig. Mmemezi is beskryf as ’n BBP wat dinge “op sy manier” gedoen wou hê. Lethlathle het getuig dat verskeie klages oor Mmemezi se gedrag op dowe ore geval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.