Bebloede kolf glo in Oscar se huis opgespoor

Oscar Pistorius

Die Suid-Afrikaanse polisie het ontken dat hulle kritieke inligting oor die Oscar Pistorius-moordsaak, wat in twee Sondag-koerante verskyn het, uitgelek het.

“Ek weet nie waar die mense die stories in die hande kry nie,” het lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, aan Sapa gesê. “Ons het nie enige verklaring uitgereik of met enigiemand gepraat nie.”

Die City Press het Sondag berig dat hulle deur “in-diepte onderhoude” met bronne “naby” aan die polisie-ondersoek kan bekendmaak dat ‘n bebloede krieketkolf, wat by Oscar se huis aangetref is, as sleutelgetuienis in die hof gebruik gaan word. Die artikel beskryf ook ‘n telefoonoproep wat Oscar vroeg Donderdagoggend glo aan sy pa gemaak het, en dat die polisie glo versoek het dat Oscar vir dwelmmiddels en steroïede getoets moet word.

Reeva Steenkamp, model en regstudent, is Donderdagoggend in haar jaarlange vriend, Oscar, se huis in Pretoria doodgeskiet. Oscar is van moord aangekla en sal na verwagting Dinsdag weer in die hof verskyn om amptelik aansoek te doen om borg.

Medupe Simasiku, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NPA), het Sondag versoek dat die bron van die berigte aan die mede bekendgemaak moet word. “Die koerant moet bevestig waar hulle aan die inligting kom,” het Simasiku gesê. “Die NPA het Vrydag ‘n onvolledige polisie-dossier van die saak ontvang. Die polisie het aan die NPA bevestig die dossier is onvolledig, aangesien die ondersoek steeds voortduur.” Simasiku sê die NPA het dus nie enige inligting ontvang wat in die koerante gepubliseer is nie. “Die inligting is in die polisie se hande.”

Simasiku sê die gelekte inligting sal nie noodwendig die hofsaak beïnvloed nie, aangesien “die bewyse wat gepubliseer is, verkeerd mag wees”.

Mogale het gesê sy kan nie bevestig of die gelekte inligting wel van die polisie-dossier af kom nie. “Ons kan dit nie bevestig of ontken nie.” Sy sê die inligting wat uitgelek het is “baie ernstig” en dat ‘n ondersoek van stapel gestuur sal word om te bepaal wie die bron is. “Alles sal in die hofsaak openbaar word,” het sy geantwoord op die vraag waar die ondersoek tans trek.

Die City Press het berig dat die polisie ‘n reeks scenarios ondersoek insluitend ‘n bebloede kolf wat in Oscar se huis aangetref is. Dit sluit in dat Reeva dit ter selfverdediging gebruik het; dat Oscar dit gebruik het om Reeva aan te rand of om die badkamerdeur af te breek waar Reeva tydens die skietery was.

Die koerant berig hy kan ook “bekendmaak” dat Reeva se skedel “gekraak” is en dat die polisie Oscar versoek het om vir dwelms en steroïede getoets te word.

Die koerant sê ook Oscar het sy pa net ná 03:20 Donderdagoggend gekontak en hom versoek om na die huis te kom. Volgens die koerant het Oscar glo Reeva se liggaam by die trappe afgedra toe sy familie opgedaag het.

Die koerant sê “alle” bronne wat met sy verslaggewers gepraat het, het die moontlikheid dat Reeva geskiet is omdat hy haar as ‘n inbreker aangesien het, uit die weg geruim.

Intussen het die Sunday Independent ‘n onderhoud met ‘n anonieme “vriendin” publiseer wat sê dat Oscar haar ook vroeg Donderdagoggend gebel het. Toe sy by Oscar se huis opgedaag het, het hy glo Reeva se liggaam by die trappe afgedra. Die “vriendin” sê sy en Oscar het probeer om Reeva te help, maar dat die paramedici haar dood verklaar het toe hulle kort daarna opgedaag het.

-SAPA

Lees ook:
Reeva se nadoodse ondersoek afgehandel
Polisie glo bang Oscar pleeg selfmoord
Oscar: Media in moeilikheid oor foto
Reeva se gedenkdiens gereël
Oscar se gesin betwis moordklag
Oscar bly in aanhouding
Oscar het Reeva glo deur toe badkamerdeur geskiet
Pistorius vandag in hof
Oscar: M-Net onttrek advertensieveldtog
Oscar-skietery: Ooggetuies beweer paartjie het gestry
Oscar gaan aand in tronk spandeer
Oscar: Staat gaan borg teenstaan
“Oscar erg geskok,” sê pa
Oscar-skietery: Medelye stroom in vir meisie
Oscar Pistorius skiet glo meisie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marlené ·

Mnr. Oscar Pistorius’ goeie dag’ Suid-Afrika verwag net die waarheid oor die skietery, net die Waarheid! Niks minder as die waarheid nie! . . . ONS IS GEREGTIG OP DIE WAARHEID OMDAT IEMAND DOOD IS . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.