‘n Vrou wat daarvan aangekla word dat sy kontant en juweliersware van casino-klante gesteel het terwyl geluksrituele uitgevoer is, het Maandag in die Durbanse hof vir kommersiële misdade verskyn.
Die saak is tot 12 Desember uitgestel om die vrou kans te bied om vir regshulp aansoek te doen, het kolonel Jay Naicker, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, gesê. Die vrou, wie se naam nie bekend gemaak mag word alvorens ‘n uitkenparade gehou is nie, staar drie klagtes van bedrog in die gesig. “Die vrou sou glo vermeende slagoffers by ‘n plaaslike casino nader en hulle dan laat glo dat sy hulle geluk kan swaai deur bisarre rituele uit te voer,” het Naicker gesê. Sy het glo ook dobbelaars genader en gesê sy kan hulle aan ‘n toekomsvoorspeller bekendstel wat glo hul kans om te wen sou verbeter.
Naicker sê een klant is glo van kontant en juweliersware ter waarde van meer as R1 miljoen beroof. Dit blyk dat die vrou al vir langer as ‘n jaar dieselfde metodes gebruik. “Ons glo daar is meer slagoffers daar buite wat dalk te skaam was om vroeër iets te sê,” het Naicker bygevoeg.