Begrafnisreëlings vir Corrie Sanders bekend

Corrie Sanders

Begrafnisreëlings vir die voormalige swaargewigbokskampioen, Corrie Sanders, is Dinsdag bekendgemaak.

Sanders se begrafnis sal Maandag vanuit die NG Kerk Wonderpark in Akasia, Pretoria-Noord plaasvind. Die 46-jarige bokskampioen was Saterdagaand by die Thatch Haven Country Lodge in Brits om sy broerskind, Michael Sanders, se 21e verjaardagpartytjie te vier, toe rowers opgedaag en lukraak begin skiet het. Die rowers het klante by die restaurant van hul persoonlike besittings beroof. Sanders is tydens die voorval in die maag en hand geskiet en het Sondagoggend in die Kalafong-hospitaal aan sy beserings beswyk. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

EWN berig intussen dat die DA gevra het vir ʼn ondersoek na hoekom Sanders na bewering toelating geweier is tot die Steve Biko-hospitaal, ure voor sy dood. Sanders se familie beweer hy van die hospitaal weggewys. Sanders se broer Mike sê die familie lei steeds aan skok. “Dis baie moeilik, veral vir my ma wat regtig swaarkry.” Sanders se eksvrou, Sunette, sê haar twee kinders is steeds erg geskok nadat hulle gesien het hoe hulle pa geskiet word. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.