Bejaarde vrou het glo terugbaklei

Nettie Miller Foto deur die familie aan Maroela Media verskaf

Nettie Botha-Miller (74), wat Woensdag in haar huis in Roseden, Boksburg, aangeval en vermoor is, het glo met haar aanvallers terugbaklei.

Linda Naudé, Miller se dogter, het aan Maroela Media gesê haar ma se kamer was baie omgekrap ná die voorval. “Die televisiestel was aan flarde en ‘n baie swaar stoeltjie van haar kamerstel is omgegooi,” het Naudé gesê. “My ma het terugbaklei, maar sy was nie sterk genoeg om teen drie te baklei nie.”

Maroela Media het Vrydag oor dié aanval berig. “Die rowers het vier verskillende deure afgebreek om by ma uit te kom. Hulle het eers die agterdeur se veiligheidshek, en toe die agterdeur self, die veiligheidshek in die gang en toe my ma se kamerdeur,” het Naudé bygevoeg. Volgens Naudé is ‘n koevoet, groot mes en sokstel op die toneel gekry.

“Hulle het my ma verwurg, en met ‘n kussing versmoor. Hulle het haar met ‘n verlengingskoord vasgebind en in haar gesig geslaan. Hulle het haar só hard geslaan dat haar oordromme gebars het. Bloed het by haar ore uitgeloop,” het Naudé gesê. “Hulle het ‘n pajamabroek heeltemal in haar mond gedruk.”

Volgens Naudé het die rowers Miller se selfoon, kontant in haar huis, haar bank- en kredietkaarte en juwele gesteel.

Miller het ‘n huurder in ‘n woonstel op die erf wat in ‘n nabygeleë kroeg werk. “Veronica het sowat 01:00 by die huis gekom. My ma het altyd die ganglig laat brand en met haar bedlampie aan geslaap, maar volgens die huurder was die huis donker toe sy by die huis aangekom het,” sê Naudé. Die huurder het dadelik gaan slaap toe die vermeende aanvallers op haar dak gespring en haar begin tart het. “Veronica het begin gil en skree en haar televisiestel kliphard aangesit.” Naudé het bygevoeg dat Veronica die polisie ‘n paar keer moes bel voordat hulle die straatnaam, Wannenburgweg, kon regkry. “Miskien sou hulle iets kon doen as hulle vroeër daar was,” het Naudé gesê.

Miller word Woensdag uit die Ou AP-Kerk in Boksburg ter ruste gelê. “Sy het 50 jaar lank in die huis gewoon. Sy was jare lank ‘n verpleegster in Boksburg/Benoni-hospitaal,” het Naudé gesê. “My ma was welbekend. Hulle het haar as Ouma Botha geken, maar sy was een keer getroud. Haar van was Miller.”

Naudé is die oggend 04:30 deur ambulanspersoneel van haar ma se dood in kennis gestel.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gawie Botha ·

So! wat help al die veilgheid voorsorgmaatreels,soos die vrou gehad het,en nog n christen ook!,seker net die feit dat hulle haar siel nie ook kon steel! Nogtans moeilik vir my om te kan verstaan hoe sekere mense se lewens en geboortes bepaal word!

Marietjie ·

Ek bly sê dat ‘inside info’ die grootste rol speel in huisroof en moord. Innige simpatie aan Nettie Miller se familie en vriende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.