Besonderhede van Cleveland-ontvoering bekend gemaak

Ariel Castro

‘n Man van Cleveland, Ohio in Amerika, wat daarvan beskuldig word dat hy drie vroue vir ‘n dekade lank teen hulle wil aangehou het, het Woensdag onskuldig gepleit op aanklag van ontvoering, verkragting en moord nadat hy glo een slagoffer só hard geslaan het dat sy ‘n miskraam gehad het.

Ariel Castro (52) kan die doodstraf opgelê word indien hy skuldig bevind word aan moord met verswarende omstandighede.

Amanda Berry (27) kon saam met haar sesjarige dogter ontsnap toe sy deur die geslote voordeur ‘n buurman se aandag kon trek. Polisiebeamptes het Gina DeJesus (23) en Michelle Knight (32) ook in die huis aangetref. Al drie is onderskeidelik in 2002, 2003 en 2004 ontvoer.

Meeste state in Amerika het wetgewing wat aanklaers die reg gee om misdadigers, wat swanger vroue seermaak, te straf, terwyl die vrou se reg om ‘n wettige aborsie te ondergaan, beskerm. Castro se prokureurs betwyfel egter of daar voldoende “mediese en forensiese getuienis” bestaan om te bewys dat hy die swangerskappe op ‘n gewelddadige wyse beëindig het. “Ons hoop dat ons ‘n oplossing kan bereik om ‘n onnodige hofsaak oor moord met verswarende omstandighede en die doodstraf te vermy,” het Craig Weintraub, prokureur vir die verdediging, gesê. “Ons is deeglik bewus dat die hofsaak ‘n emosionele lading op die vroue, hul familie en die gemeenskap sal plaas.”

Ontvoering en verkragting is nie aan die doodstraf onderworpe nie, ondanks die lyding wat die vroue moontlik deurgemaak het nie. Die vroue is ontvoer toe hulle ‘n rygeleentheid aangebied is. Hulle was onderskeidelik 14, 16 en 20 jaar oud.

Die 329 aanklagtes wat verlede week aan die hof voorgelê is het ‘n blik gebied op dít wat die vroue moontlik deurgemaak het, alhoewel dit slegs die eerste vyf jaar van hul aanhouding gedek het. Knight, wat eerste ontvoer is, is met ‘n ketting aan ‘n pilaar in die kelder vasgemaak. Sy is glo herhaaldelik verkrag en geslaan en was glo ten minste vier keer swanger.

Berry het die aand wat sy ontvoer is probeer ontsnap, maar is oorweldig en toe verkrag, volgens die aanklag. Haar bene en mond is met kleefband gebind. Sy was ook met ‘n ketting aan ‘n paal in die kelder vasgemaak. Volgens die aanklag het Castro ‘n valhelm op haar kop geplaas. Hy het glo deur die aand ‘n stofsuier se koord om haar nek vasgebind.

DeJesus is glo ook met ‘n ketting vasgemaak, en sy is ook geslaan en seksueel aangerand op dieselfde aand wat sy ontvoer is. Dié 14-jarige is egter eers ‘n maand later verkrag.

‘n Polisieverslag wat uitgelek het, het verdere gruwelike besonderhede bekend gemaak. Knight sê sy was vyf keer swanger en Castro het haar “gedwing om die babas te aborteer”, lui die polisieverslag. “Hy het haar vir ten minste twee weke lank laat verhonger en haar herhaaldelik in die maag geslaan totdat sy ‘n miskraam gehad het.”

Castro het glo in 2006 ‘n plastiek kinderswembadjie gebring en Berry forseer om op Kersdag in die swembadjie geboorte te skenk, het die vroue aan die polisie gesê. Hy het Knight gedwing om haar te help en gesê “indien die baba sterf hy haar sou doodmaak”. In een stadium het die pasgebore dogtertjie glo ophou asemhaal en Knight het mond-tot-mondasemhaling op die baba toegepas. ‘n DNA-toets het bevestig dit is Castro se dogter.

Volgens die vroue is hulle in die beginjare van hul ontvoering in die dag in die kelder vasgebind, maar hulle is uiteindelik toegelaat om sonder kettings, agter geslote deure, in die huis te bly. Die polisie weet nog nie waarom niemand wat die huis besoek het, insluitend Castro se familie, besef het wat aangaan nie. “Ariel het almal op ‘n afstand gehou,” het Ed Tomba, adjunkhoof van die polisie, kort ná die inhegtenisneming gesê. “Ons weet nog nie die mate van beheer wat hy moontlik oor die vroue gehad het nie. Ek dink dit gaan lank duur voordat ons dit uitvind.”

Lees ook:
Vyf miskrame vir ontvoerde vrou
R72 miljoen-borg vir ‘ontvoerder’
Video: Vroue 10 jaar ná ontvoering gevind

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.