‘Boelie’-moordsaak: Borg toegestaan

Argieffoto

ʼn Graad 11-leerder van die Oos-Rand wat glo een van sy klasmaats doodgeskiet het, is Donderdag op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Tsundzukani Mthombi (18) het glo Nkululeko Ndlovu (18) in ʼn klaskamer by die Phineas Xulu Sekondêre Skool doodgeskiet. Ndlovu se ma en tannie het begin huil toe die hof gehoor het hoe Mthombi glo sy ma se vuurwapen gesteel het.

Ao Isaac Mashishi, die ondersoekbeampte, het aan die hof gesê dat Mthombi ʼn kluissleutel uit sy ma se handsak gesteel, die kluis oopgesluit, die vuurwapen uitgehaal en toe die sleutel in haar handsak teruggesit het. Mthombi se ma is ʼn metropolisiebeampte.

“Hy het sy ma se vuurwapen gevat. Dit beteken dat hy beplan het om die moord te pleeg,” het Mashishi gesê. Hy het gesê dit lyk of Mthombi die vorige dag deur ʼn groep seuns by ʼn bushalte aangeval is. “Hulle het hom aangeval en hom toe gejaag toe hy weghardloop,” het Mashishi gesê.

Die besonderhede van dit wat plaasgevind het nadat hy die vuurwapen uit die kluis gehaal het, verskil egter. In een verklaring word daar beweer dat die seuns, wat in die vorige dag se aanval betrokke was, het na sy klaskamer gegaan en hom weer aangeval. Mthombi het toe glo ʼn skoot afgevuur, maar mis geskiet. Hy het weer gevuur en Ndlovu toe doodgeskiet.

In ʼn ander verklaring word daar beweer dat die seuns die klaskamer binnegekom het, maar nie dat hulle Mthombi weer aangeval het voordat hy begin skiet het nie.

Die hof het gesê die Staat het nie ʼn sterk saak nie, aangesien dit slegs oor dié twee teenstrydige verklarings beskik.

Die saak is tot 16 Januarie uitgestel.

Lees ook:
‘Boelie’-moordsaak: “Hy het gekry wat hy verdien”
Leerling geskiet ná hy ander glo afknou

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.