Brandslagoffertjie oorlede

Juarica Small Foto: Hero Burn Foundation, Facebook

Juarica Small, die 6-jarige van Bloemfontein, wat Donderdag in Bloemfontein verbrand het, is Saterdagoggend oorlede.

Annerie du Plooy van die Hero Burn Foundation het Vrydagaand laat weet dat Juarica se organe begin ingee het.

Die brand het Donderdagoggend omstreeks 08:00 in Juarica en haar sussie, Juanita (11), se kamer in hul huurhuis in Extonweg, Hilton, ontstaan terwyl sy nog geslaap het. Juanita was reeds skool toe. Juarica het om hulp geskreeu toe sy gebrand het. “Ek het geslaap toe sy gil: “Mammie, help my!” het Patricia, Juarica se ma, gesê. ‘n Kortsluiting is moontlik die oorsaak van die brand.

Juarica se 3-jarige boetie, Johandré, het langs Patricia in die bed geslaap. Patricia en Johandré is ongedeerd.

Patricia, ‘n werklose ma, het alles in die brand verloor. Dit is die tweede tragedie wat die gesin in soveel jaar tref nadat Juarica se pa, Johan, twee jaar gelede selfmoord gepleeg het.

Braam van Zyl, afdelingsoffisier van die brandweer-en-reddingsdiens in Mangaung, het gesê die brand het erge skade aan die huis aangerig, berig Volksblad. Twee voëls, wat in hul hokke met ’n kombers toegegooi was, het die brand oorleef, maar ’n hond het doodgebrand en ’n kat is weg. Van Zyl sê dit het sewe brandweermanne sowat ’n uur geneem om die brand te blus.

Patricia Small se huis in Extonweg, Hilton Foto: Charl Devenish, Volksblad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.