Chanelle Henning-moord: Verdagte is glo vriend van eksman

Chanelle Henning se eksman., Nico, saam met hulle seuntjie Benjamin. Foto: Facebook

Een van die mans wat na verwagting Vrydag in die hof sal verskyn in verband met die moord op Chanelle Henning is glo ʼn goeie vriend van Henning se eksman, Nico.

EWN berig dat die man in Nelspruit in hegtenis geneem is en dat hy noue bande het met Nico Henning. Die polisie hou egter vol dat Nico nie ʼn verdagte in die saak is nie. Volgens berigte was dit Nico se vriend wat die voormalige Nigeriese Olimpiese Atleet, Ambrose Monye, gevra het om Henning se dood te reël. Monye het na bewering op sy beurt die geskorste polisieman, Gerhardus du Plessis, beveel om die moord te pleeg. Du Plessis, wat Maandag geskors is as speurder by die Hercules-polisiekantoor, het glo erken dat hy die sneller van die moordwapen getrek het. Die man wat Vrydag saam met Nico se beweerde vriend in die hof verskyn was glo die drywer van die motorfiets wat Du Plessis vervoer het om die moord te pleeg. Du Plessis het reeds in die hof verskyn en word aangekla van moord, sameswering tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Ambrose Monye (links) en Preshan Singh kort na hulle hofverskyning Donderdag. Foto: SAPA

Monye, en ʼn medebeskuldigde, Preshan Singh, het Donderdagoggend in die Pretoria landroshof verskyn. Monye en Singh word aangekla van moord, sameswering tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Monye is verlede week Dinsdag vrygespreek op aanklag van moord. Daar is bevind Monye het uit selfverdediging opgetree toe hy op 4 Julie 2009 Neville Olivier (48) doodgeslaan het tydens ʼn padwoede voorval. Olivier en Monye se motors het glo mekaar se pad versper. Olivier en nog drie mans wat saam met hom in die motor was, het glo uitgeklim en na Monye se motor gestap. Olivier het Monye glo verskeie kere gestamp. Monye het hom glo teruggestamp waarna hy geval het en op die toneel dood is. Monye en Singh het intussen Donderdag in die hof aangevoer hulle is aangerand tydens hulle inhegtenisname en dat hulle toegang tot ʼn dokter geweier is. Monye is glo betrokke by dwelmbedrywighede in Pretoria. Volgens berigte is Du Plessis ʼn dwelmverslaafde. Monye het Du Plessis glo beveel om die moord te pleeg terwyl Singh glo die wapen moes kry wat in die moord gebruik is. Die motief agter die moord is egter steeds onbekend aangesien geen band tussen Henning en die vyf verdagtes reeds aan die lig gebring is nie.

Henning is verlede week Dinsdag deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet kort nadat sy haar 5-jarige seuntjie Benjamin by ʼn kleuterskool in Faerie Glen afgelaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.