Chanelle Henning-saak: Bewerings oor dwelms, molestering

Andre Gouws Foto: Werner Beukes, SAPA

Andre Gouws, een van die mans wat beskuldig word van die komplot om Chanelle Henning te vermoor, is glo aangesê om haar dop te hou, het die Pretoriase hooggeregshof Dinsdag gehoor.

“[Henning se vervreemde man] Nico het gevra of ek iemand kan kry om haar dop te hou om te sien of sy dwelms gebruik of aankoop,” het Gouws aan die hof gesê.

Hy sê die egpaar was besig om te skei en het oor die toesig van hul seun gestry. Hy sê ʼn sielkundige se verslag het aangedui dat dit moontlik is dat Chanelle dwelmmiddels gebruik het.

Henning (26) is op 8 November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet nadat sy haar seun by die kleuterskool afgelaai het.

Gouws en sy medebeskuldigde, Ambrose Monye, het onskuldig gepleit op vyf aanklagte wat verband hou met ʼn beweerde sameswering om Chanelle te vermoor. Die staat voer aan dat Monye en Gouws saam met voormalige polisieman Gerhardus “Doepie” du Plessis en Willem “Pike” Pieterse (alias Tattoo) ʼn komplot gesmee het. Du Plessis en Pieterse dien tans elk 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle skuld beken het op hul aandeel in die moord.

Gouws het Dinsdag getuig oor sy verhouding met Nico Henning. “Ons is baie goeie vriende,” het hy gesê. Hulle het mekaar glo in 1989 ontmoet toe Nico en sy meisie by hom begin werk het terwyl hulle studeer het.

Gouws se prokureur, Daan Mostert, wou by sy kliënt weet of hy Nico met sy egskeiding bygestaan het. Gouws sê daar was bewerings teen Nico dat hy sy seun molesteer het. “Dis toe ek betrokke geraak het.” Hy sê hy het Chanelle tussen die kleuterskool en die skool, waar sy gewerk het, dopgehou.

“Dit het ʼn paar keer gebeur, maar sy het my geken so ek kon nie naby genoeg kom om te sien of daar enige transaksies plaasvind nie. Ek het gekyk of sy op enige vreemde plek gestop het of by vreemdelinge stilgehou het.”

Hy sê hy het haar vir ʼn maand of twee lank dopgehou voordat sy vermoor is.

“Ek het Monye, wat ʼn rolspeler in die dwelmwêreld is, genader.” Gouws sê hy het breedweg Nico se situasie aan Monye verduidelik en gesê hulle het bewyse nodig dat Chanelle dwelmmiddels gebruik. “Ek het vir Monye gesê die eerste prys sal wees indien ʼn polisiebeampte haar in hegtenis kan neem terwyl haar seun in die motor is.”

Hy het gesê die tweede prys sal wees indien sy met dwelmmiddels in haar besit gevang word, of op heterdaad betrap word terwyl sy dwelmmiddels koop.

“Monye het gesê hy het ʼn beampte van die metropolisie in sy sak wat dit sal kan hanteer,” het Gouws gesê.

Die saak duur voort.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.