Chinees wen Nobelprys vir letterkunde

Die Chinese skrywer, Mo Yan is as wenner van vanjaar se Nobelprys vir letterkunde aangewys. Mo Yan, ‘n skrywersnaam wat “moenie praat nie” in Mandaryns beteken, is die eerste Chinese skrywer wat die Nobelprys vir letterkunde verower sedert dit meer as ‘n eeu gelede die eerste keer toegeken is.

Die prys is volgens die keurkomitee aan hom toegeken vir die “hallusinerende realisme waarmee hy volksverhale, die geskiedenis en die teenswoordige in mekaar kan verweef”.

Na dit rugbaar geword het dat Mo ‘n kandidaat is vir die aanwysing, het dit op Chinese sosiale netwerke gegons, maar pessimisme het ook hoogty gevier omdat Chinese gewoond is daaraan dat hul letterkunde in ‘n westers georiënteerde letterkundige wêreld aan die agterspeen suig.
Die oë van die wêreld is nou op Stockholm om te sien wie die wenner van vanjaar se Nobel-vredesprys is. Dié aankondiging word môre om 11:00 verwag.

Wenners in die verskillende afdelings is die afgelope week bekend gemaak. Sir John B. Gurdon van Engeland en Shinya Yamanaka van Japan is as die wenners van vanjaar se Nobelprys vir Fisiologie en Medisyne aangewys weens werk aan die omskepping van gewone selle in stamselle. Robert J. Lefkowitz en Brian K. Kobilka, beide kardioloë van Amerika het vanjaar se Nobelprys vir chemie losgeslaan. Hulle het belangrike ontdekkings gedoen oor hoe selle in die liggaam op chemiese boodskappe reageer, wat tot die ontwikkeling van heelwat voorskrifmedisyne gelei het.

Serge Haroche van Frankryk en David J. Wineland van Amerika het die fisikaprys verower. Hulle het navorsing gedoen oor die beheer van kwantum-partikels soos atome en elektrone, wat onder meer daartoe kan lei dat kwantumrekenaars ontwikkel kan word wat met hul berekeningsvermoë vandag se rekenaars na outydse telraampies sal laat lyk. Die laaste van vanjaar se Nobelpryswenners, vir ekonomie, word Maandag aangekondig.

Altesaam tien Suid-Afrikaners het al ‘n Nobelprys gewen. Vier was wenners van die vredesprys, te wete Albert Luthuli, Nelson Mandela, FW de Klerk en aartsbiskop Desmond Tutu. Sydney Brenner in 2002, Allan Cormack in 1979 en Max Thyler in 1951 het die prys vir medisyne gewen, Nadine Gordimer in 1991 en JM Coetzee in 2003 die prys vir letterkunde, en in 1982 het Aaron Klug die Nobelprys vir chemie gewen.

Die prysoorhandiging aan vanjaar se wenners vind op 10 Desember, op Alfred Nobel se sterfdagherdenking, plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.