De Doorns-oproer: Kwaadstokers glo met busse aangery

Gerugte doen die rondte dat buitestaanders gebruik is om by betogings op plase en in dorpe in die Wes-Kaap betrokke te raak.

Die Demokratiese Alliansie (DA) doen ‘n beroep op die polisie en plaasgemeenskappe om waaksaam te wees vir oproermakers wat in busse na dorpe aangery word met die doel om misdaad te pleeg. In die verklaring op hul webwerf bevestig die bevelvoerder van die polisiestasie in Prince Alfred Hamlet dat hulle talle berigte ontvang het van busse wat Woensdag mense na die betogings aangery het. Die busse het glo vroeg Woensdagoggend vanaf die Driehoekpas, wat van Touwsrivier en Worcester bereik kan word, in die dorp aangekom.

Polisie in die gebied het glo ook berigte ontvang dat bakkies van Grabouw en Stellenbosch van plaas tot plaas gery het en gepoog het om onwettig die eiendomme te betree. Een van die voertuie, met registrasienommer CL33443, het gevlug toe ‘n skietery tussen kwaadstokers en polisie uitgebreek het. Niemand is in die voorval noodlottig gewond nie.

Die polisie in Worcester het glo ‘n hele aantal busse by ‘n vulstasie buite die dorp afgetrek. Die passasiers was glo mense van buite die gebied wat glo die betogings sou bywoon. Volgens die DA is soortgelyk berigte van die Paarl ontvang.

Die DA berig ook in hul persverklaring dat ‘n pamflet glo in die Theewaterskloof-gebied versprei is wat daarop dui dat die ANC ‘n aantal kwaadstokers betaal het om spesifieke take uit te voer. Die pamflet bedank glo diegene wat aan die betogings deelgeneem het en lig hulle in dat hulle hul ID-boekies moet saamneem wanneer hulle R450 van ‘n lys van vyf mense af kan ontvang. Die ANC het intussen ontken dat hulle ooit so ‘n pamflet uitgegee het. Klik hier om die vermeende pamflet te sien.

Die DA doen ‘n beroep op die polisie en plaasgemeenskappe om besonderhede van soortgelyke kriminele elemente aan te teken en die inligting aan 021 481 4300 deur te gee. Foto’s van busse en bakkies wat moontlik kwaadstokers rondry en die aanteken van motorregistrasienommers is baie belangrik om ‘n patroon te bepaal wat gebruik kan word om die vermeende misdadigers vas te trek.

Lees ook:
40 vas ná gewelddadige betogings in Swellendam
De Doorns-oproer: Verkneersknoop by pont naby Swellendam
De Doorns-oproer: Cosatu moet betogers nog eers inlig oor betogings
De Doorns: “Skiet die goed vrek,” sê polisie glo
De Doorns-staking: Boer beseer, paaie gesluit
De Doorns-staking vir eers opgeskort
De Doorns-staking: “Plaasarbeider” sterf, vyf beseer
De Doorns-staking: Boere versper pad na Ceres
De Doorns: Motorbande aan die brand gesteek, paaie versper
De Doorns: Matrieks verhoed om eksamen te skryf
De Doorns: ANC vra boikot van SA wyne
De Doorns-staking brei nou uit na ander dorpe
De Doorns: Polisie ontken hulle het betogers aangeval
De Doorns: Marikana het na die plase toe gekom
11 plaaswerkers van De Doorns in hegtenis geneem
De Doorns-boere vlug van plase

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Brenda ·

Dit is nou vuilspel!! Omdat die ANC te papbroekig, of sal ek liewer se te KORRUP is, om hul afdelings en munisipaliteite se dienste te lewer en bestuur te laat vlot verloop, nou BETAAL hulle kriminele om ook die DA gebiede, waar diensteWEL vlot verloop, onregeerbaar te maak. Die ergste is dat hulle dit WEEREENS, soos ALTYD, op die wit Boere blameer. As ‘n land se regering so LAAG daal en daaroor lieg, sidder ek om te dink wat hulle nog alles doen en waaroor hulle nog alles lieg en nog ALLES GAAN LIEG EN DOEN!!!

Paul Joubert ·

Dit is definitief die geval gewees op Swellendam dat mense met busse aangery is om te kom moeilikheid maak, hoewel plaaslike kwaaddoeners ook by die oproer aangesluit het.
Op Swellendam is daar baie skade aangerig aan ondernemings wat deur DA-raadslede en ander DA-mense besit word, maar baie min skade aan enige ander ondernemings (behalwe natuurlik die arme Somalis wat altyd deurloop).

Die balans in die dorpsraad het van ANC na DA geswaai, en daarná het die geweld gebeur.

Daardie “pamflet” lyk egter vir my vals – die taalgebruik daarin kom nie eg voor nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.