Derby-Lewis en Walus sterk in hospitaal aan

Clive Derby-Lewis Foto: news.howzit.msn.com

Clive Derby-Lewis Foto: news.howzit.msn.com

Clive Derby-Lewis (78) en Janusz Walus, wat Woensdag in die Pretoria Sentraal-gevangenis met ʼn skerpgemaakte kombuislepel aangeval is, sterk in die Pretoria Akademiese hospitaal aan.

Marius Coertze, Derby-Lewis se regsverteenwoordiger, het Donderdag aan Maroela Media gesê Derby-Lewis en Walus se lewens is nie in gevaar nie. “Derby-Lewis het ʼn steekwond aan sy kop opgedoen en twee op sy arm. Sy linkerarm is ook in die voorval gebreek. Hy moes 18 steke kry om sy wonde te heg,” het Coertze gesê.

Hy sê Walus het ʼn steekwond aan sy kop opgedoen. Hy sê hulle is ná die aanval deur ʼn verpleegster behandel en is laat Woensdagmiddag na die hospitaal oorgeplaas vir verdere behandeling en waarneming.

“Dit wil voorkom of net een persoon in die aanval betrokke was. Die motief vir die aanval is nog onbekend. Die polisie is besig om die voorval te ondersoek.”

Coertze het gesê sy praktyk is besig met voorbereidings vir Derby-Lewis se derde paroolaansoek wat hulle beplan om vroeg in April by die hooggeregshof in Pretoria in te handig. “Hy word volgende jaar in Januarie 79 jaar oud. Hy het al amper 20 jaar en ses maande van sy 25 jaar vonnis uitgedien, ons hoop dat hy dié keer gaan parool gaan kry,” het hy gesê.

Derby-Lewis is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir sy rol in die moord op die anti-apartheidsvegter, Chris Hani op 10 April 1993. Hy het ʼn vuurwapen gereël vir Walus, wat tans dieselfde vonnis uitdien. Altwee is aanvanklik doodstraf opgelê, maar dit is tot lewenslange tronkstraf verander toe die doodstraf in 1995 in Suid-Afrika afgeskaf is.

Derby-Lewis het glo kanker en het in 2011 en 2012 aansoek gedoen vir mediese parool, maar dit is afgekeur.

Lees ook:
DKD bevestig aanval op Derby-Lewis en Walus
Clive Derby-Lewis en Janusz-Walus glo in tronk aangeval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eugenie ·

Mens kan nogal ‘n hele rits name hier lys van bekende moordenaars wat vry rondloop en waarvan meeste van hulle nogal hoë poste beklee. Ek bid dat Mnr Derby-Lewis se aansoek om parool geslaagd sal wees. Ek is van mening dat sy lewe nou in gevaar is en dit nogal in ‘n tronk!!! Laat die man vry, hy verdien dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.