DStv lol glo nie met Afrikaanse kykers

kykNET-kykers wat van DStv se spesiale pakkette gebruik maak, was warm onder die kraag toe dit wou voorkom of die gewilde Afrikaanse kanaal nou net op DStv se hoëpremie-pakket beskikbaar gaan wees.

DStv het Dinsdag ʼn epos aan hul DStv Select-klante gestuur waarin hulle aankondig dat die Select-pakket beëindig gaan word. Dié pakket is gister [Dinsdag] deur die Family-pakket vervang.

“Ons het oor die afgelope tyd breedvoerige navorsing gedoen en gevolglik besluit om die pakket aan te pas sodat die nuwe een meer relevante kanale aan ons klante sal bied,” het Collins Khumalo, MultiChoice SA se hoof uitvoerende beampte, in die e-pos aan klante gesê.

kykNET is een van die kanale wat tans op DStv-Select beskikbaar is, maar nie op DStv-Family nie. Dit is egter met kykNET en Kie vervang en kykNET Musiek het bygekom. Klik hier vir meer inligting oor die pakkette. Die aankondiging het sommige intekenare onder die indruk gebring dat hulle nou slegs kykNET op die duurder premie-pakket sal kan kyk.

Marietjie Groenewald, ʼn woordvoerder van MultiChoice, het Woensdag aan Maroela Media gesê intekenare het geen rede om bekommerd te wees nie. “kykNET is nog steeds vir intekenare van die Select-pakket beskikbaar,” het Groenewald gesê. “Alhoewel die Select-pakket ontbind is, is dit egter nog aan bestaande intekenaars beskikbaar. Klante het die opsie om op die pakket te bly, of om na die Family-pakket oor te skakel. Nuwe intekenare gaan egter nie meer die keuse hê om die Select-pakket aan te skaf nie. Mense wat dus tevrede is met hul Select-pakket hoef nie van pakket te verander nie, en sal steeds kykNET daarop kan kyk.”

Groenewald het bygevoeg dat Afrikaans met die nuwe Family-pakket aan ʼn groter gehoor blootgestel gaan word en dat talle van kykNET se programme sal op kykNET en Kie herhaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Patricia Woulidge ·

En net so is Kowee ook nie meer beskikbaar nie! Altwee my kinders was mal oor die kanaal, en ek het ook gedink dit was van die mees aanvaarbare inhoud huidiglik op televisie vir my 4 en 2 jarige!

Morne ·

Daar is ‘n indian pakket en portugese pakket, hoekom nie ‘n pakket wat al die afrikaanse kanale in 1 gee nie?

Kalie ·

Hulle weet ook dat witmense eerder sport kanale een en twee (rugby en krieket) kyk as kanale drie en vier (sokker….sokker…..sokker) kyk! Hulle dwing ‘n mens om hoepremie kanale te koop!

Tertia Combrink ·

En daar trek ons alweer aan die kortste end, want Kyknet en kie het meestal herhalings van ou gewilde programme so as ons al die 3 Afr kanale wil dan moet ons die duurste pakket vat. Ek voel dit is hoogs onregverdig. Dit word nou so duur maar ons word gedwing om die Premiumpakket te vat. Verder moet mens al jou sport ook opoffer as jy bietjie geld wil spaar. Mens kan ook nie eers gebruik maak van die drifta vir die sport as jy die ander pakkette vat nie, want jy kan net opvangs kry as jy in die stede bly en tog word dit so op die platteland bemark.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.