The Saturday Star berig dat Gert en Marie Swanepoel aan die Brasiliaanse ambassade in Pretoria geskryf het en gevra het om met president Dilma Rousseff te vergader wanneer sy later die maand die Brics-konferensie in Durban gaan bywoon. Die egpaar het ook verlede jaar ʼn skrywe aan Rousseff gerig en vir presidensiële kwytskelding vir hul dogter gevra. “As ons net vyf minute van haar tyd kan kry sal dit ʼn eer wees,” het Marie aan The Saturday Star gesê. Beetge het reeds die helfte van haar agt jaar vonnis vir dwelmsmokkelary uitgedien. Sy is in 2008 op die lughawe in Sao Paulo met 10 kg kokaïen in haar tas betrap.
Sheryl Cwele, eksvrou van Siyabonga Cwele, minister van staatsveiligheid, is in Oktober verlede jaar tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy en haar medebeskuldigde Frank Nabolisa daaraan skuldig bevind is dat hulle Beetge as ʼn dwelmmuil gebruik het om kokaïen van Brasilië na Suid-Afrika te smokkel.