“Ek gaan jou bene breek,” sê Oscar Pistorius glo

Oscar Pistorius Foto: Reuters

Oscar Pistorius gaan glo nie ʼn saak van intimidasie of laster teen Marc Batchelor, voormalige sokkerspeler, by die Valke aanhangig maak nie.

“Pistorius het nie ʼn saak by ons aanhangig gemaak nie,” het kaptein Paul Ramaloko, woordvoerder vir die Valke, Woensdag gesê. “Ek bevestig dat hy ʼn paar uitdagings gehad het en dat hy die Johannesburgse misdaadeenheid Woensdag besoek het en dat ons die situasie kon ontlont.”

The Star het Woensdag berig dat ʼn lastersaak teen Pistorius aanhangig gemaak is nadat hy glo ʼn saak van intimidasie teen Marc Batchelor, voormalige sokkerspeler en Supersportaanbieder, aangeteken het. Pistorius het glo, nadat hy in September van die Olimpiese Spele in Londen teruggekeer het, uitgevind sy meisie het hom met Quinton van der Burgh verkul. Van der Burgh, mynmagnaat en die skepper van die werklikheidsreeks Clifton Shores, is een van Batchelor se vriende. Pistorius het Van der Burgh by die Kyalami-renbaan konfronteer en hom glo gevloek, het ʼn anonieme bron aan die koerant gesê. Die meisie, wie se naam nie bekend gemaak is nie, is glo 18 jaar oud.

Van der Burgh was glo by die renbaan saam met verskeie sakemanne wat in sy maatskappye belê en hy was verleë oor die voorval. Hy het ʼn saak van intimidasie teen die atleet aanhangig gemaak. Volgens Van der Burgh se vriende het dit egter die situasie vererger en Van der Burgh het verskeie dreigemente via SMS ontvang.

Batchelor, wat sy werk by Supersport ʼn paar jaar gelede glo verloor het omdat hy in vuisgevegte betrokke geraak het, het ʼn paar dae later van die voorval te hore gekom en Van der Burgh verdedig. Pistorius en Batchelor het toe glo dreigemente via SMS aan mekaar gestuur. Pistorius het glo aanhoudend gedreig om Batchelor se bene te breek en Batchelor het glo dreigemente teruggestuur.

Beide partye het klagtes gelê. Ramaloko het egter gesê die Valke ondersoek nie ʼn saak teen die atleet of teen die ander twee mans nie. “Ons ondersoek nie enige saak of enigiemand nie,” het Ramaloko gesê.

Batchelor ontken dat hy dreigemente gemaak het en Pistorius wou nie kommentaar lewer nie. “Dit is nie iets waaroor ek wil praat nie,” het Pistorius aan die koerant gesê. Van der Burgh bly ook stil oor die voorval en sê dat daar lasterklagtes is en dat hy nie kommentaar kan lewer nie. “Ek het groot projekte aan die gang en ek moet dus ʼn lae profiel handhaaf,” het hy gesê. Van der Burgh het wel erken dat hy vir sy lewe vrees en dring daarop aan dat die onbekende vrou nie Pistorius se meisie was nie. “Sy is nie sy meisie nie, kom ons kry dit reg,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.