“Ek het geweet my kind is dood”

Theony Brits. Foto: Verskaf

Henkie May (21) het Maandagaand sy vriendin, Theony Brits (17), in ‘n motor doodgeskiet en toe selfmoord gepleeg nadat sy glo hul verhouding wou beëindig.

Theony se ma, Theresa, het aan Maroela Media gesê dat May gisteraand vir Theony by hul huis in Wolmaransstad in Noordwes kom oplaai het. “Toe ek van die werk af by die huis kom, het ek haar gebel en sy het gesê sy is saam met hom (May) by die vliegveld.” Brits sê sy het omstreeks 18:00 vir Theony ʼn boodskap gestuur waarop sy geantwoord het sy is op pad huis toe. “Toe sy teen 18:30 nog nie by die huis was nie het ek haar probeer bel en sy het nie geantwoord nie.” Brits het na die vliegveld langs Wolmaransstad-hospitaal gery waar sy op die grutoneel afgekom het. “Ek het geweet my kind is dood. Ek het met haar hospitaal toe gejaag…mens bly steeds hoop, maar ek het geweet dit is verby.” Theony was reeds dood. May is ook na die hospitaal gehaas waar hy kort na sy aankoms dood verklaar is. Brits sê haar dogter en May het nie ʼn stormagtige verhouding gehad nie maar dat sy dit nogtans wou beëindig aangesien hy ver gewerk het en baie naweke nie huis toe gekom het nie. “Niemand het dit van hom verwag nie. Hy was saggeaard. Ek dink nie hy kon aanvaar dat sy wou aanbeweeg nie.” Theony was ʼn matriekleerling aan die Hoërskool Wolmaransstad. Sy word oorleef deur haar pa, Hannes, haar ma en haar broer Herman (14). ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Adele Myburgh, het bevestig dat die polisie die saak ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adriana Stuijt ·

Voordat hierdie saak voor die regter v.d. nadoodse ondersoek geplaas is, kan ‘n mens nie 100% beweer dat hierdie ‘n geval van selfmoord en/of moord is nie. Daar is nou reeds heelwat gevalle opgeteken op my webwerf waar die polisie eers volledig oortuig was dat mense selfmoord gepleeg het: waar daar dan tog DNA-getuienis gevind is op die toneel wat later bewys het dat dit om moorde gegaan het. ‘n Mens moet maar versigtig wees om onmiddellik aan te neem dat dit hier die geval is. Ek wag altyd vir die uitslag van die nadoodse ondersoek. Ek het min vertroue in polisieondersoeke maar soms seëvier geregtigheid nog steeds so af en toe.

Annatjie ·

Dit is gewoonlik die forensiese ondersoek wat sal vasstel wat op ‘n misdaad toneel plaasgevind het al dan nie. Sover my kennis strek is daar baie min gevalle in die polisie argiewe waar daar nie reeds reg aan die begin bepaal kon word of dit ‘n moord of selfmoord was nie. Dit bekommer my werklik wanneer mense stellings maak dat die polisie nie vertrou kan word nie. Dit bemoeilik net die werk van polisiebeamptes meer en meer. Om die waarheid te sê kan ek nie aan een enkele geval dink word in selfmoord in moord verander het nie. Dit is gewoonlik temas was slegs in storieboeke gevind word.

frikkie ·

Dit sê nie waar die mense geskiet was nie, in die kop, hart of waar? was die wapen in die man se hand gevind op die toneel?

Paul ·

Net terloops, in gevalle van selfmoord met ‘n vuurwapen word die wapen slegs sowat 25% van die tyd in die skieter se hand aangetref, dit val gewoonlik uit die persoon se hand ná die skoot, anders as in die flieks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.