Emperors Palace-dogtertjie sterk aan

Foto: @ewnreporter/Twitter

Shané du Plessis, ‘n vyfjarige wat gewond is toe 15 mans glo probeer het om die Emperors Palace Casino in Johannesburg te beroof, sterk aan in die Glynnwood Life-hospitaal.

“Sy is stabiel en sterk goed aan,” het Elbett Bole, bemarkingsbestuurder van die hospitaal, Maandag gesê. “Ons het vir haar ‘n teddie gegee en dit gaan goed met haar. Dokters het Maandagoggend skrapnel van die kant van haar gesig en kop verwyder, maar sy is in ‘n goeie luim.” Volgens Bole is haar ouers baie geskok, maar dit gaan glo ook met hulle goed.

Bole sê daar is tans geen bekommernis oor breinskade of gehoorverlies nie. Sy sê dit is nie duidelik wanneer Shané ontslaan sal word nie. “Dokters sal dit Maandagaand ná hul rondes bepaal.”

‘n Dwaalkoeël het haar kop Sondagoggend tydens ‘n mislukte rooftog in die casino se hotel skrams getref.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie in Gauteng, het gesê die polisie by die casino het ‘n wenk ontvang dat 19 mans beplan om die casino te beroof. Die polisie het ‘n groep by die ingang voorgekeer en ‘n skietgeveg het uitgebreek. Vyftien mans is in hegtenis geneem en sal na verwagting Dinsdag in die Kempton Parkse landdroshof verskyn. Die polisie het by die toneel beslag gelê op drie AK47-aanvalsgewere, vier pistole, en een rewolwer. (‘n Skakel na ‘n berig met foto’s oor die rooftog verskyn onderaan die berig.)

Die mans staar aanklagte van sameswering tot diefstal, poging tot moord, besit van ongelisensieerde vuurwapens en die besit van vermoedelik gesteelde voertuie in die gesig.

Lees ook:
Vyftien vas ná misluke casino-rooftog
Foto’s: Vyfjarige gewond in rooftog by Emperors Palace
Rooftog by Emperors Palace

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.