FHM skors twee oor ‘korrektiewe verkragting’-uitlatings

Die manstydskrif FHM het Dinsdag twee van sy werknemers geskors nadat hulle uitlatings oor korrektiewe verkragting op Facebook gemaak het.

Max Barashenkov, ʼn redakteur by die tydskrif, en Montle Moorosi, ʼn redaksionele assistent, is volgens die City Press met onmiddellike effek geskors. Barashenkov het Dinsdag op sy Facebook-profiel gesê: “Ek stel korrektiewe verkragting en sterilisasie voor vir enige wit persoon wat twerk [om op ‘n seksueel suggestiewe wyse te dans deur die heupe rond te swaai].” Korrektiewe verkragting is wanneer mans ʼn lesbiër verkrag om haar heteroseksueel te ‘maak’. Moorosi het later hierop kommentaar gelewer en gesê: “Ek dink verkragting kan nogal lekker wees indien jy dit op ʼn romantiese manier doen. Soos deur te sê ‘Ek is lief vir jou’ voor jy ʼn roofie [dwelmmiddel] in haar Earl Grey-tee inglip.”

Foto: @mishsolomon/Twitter

Barashenkov en Moorosi se uitlatings is ten sterkte op sosiale netwerke veroordeel met talle gebruikers wat meen die twee moet hul werk verloor weens die uitlatings. FHM het op sy beurt gesê hy is geskok deur die aanstootlike kommentaar wat deur sy werknemers op hul privaat Facebook-profiele gemaak is. “Hierdie kommentaar weerspieël op geen manier FHM se waardes nie. Die uitlatings wat gemaak is, is kwetsend en beledigend en geheel en al onaanvaarbaar vir FHM se bestuur. Ons sal onmiddellik dissiplinêre stappe teen die betrokke personeellede neem.”

Barashenkov en Moorosi is die soveelste mense om geskors te word oor uitlatings wat op sosiale media gemaak is. McIntosh Polela, voormalige woordvoerder van die Valke, is in November verlede jaar geskors nadat hy getwiet het: “Ek vertrou dat Jub Jub se ondersteuners vir hom ʼn pot Vaseline gegee het om saam met hom tronk toe te neem.” Sy uitlatings het gekom nadat Molemo “Jub Jub” Maarohanye en Themba Tshabalala op vier aanklagte van moord, twee van poging tot moord en die gebruik van dwelms skuldig bevind is. Vier kinders is dood nadat Maarohanye en Tshabalala in Maart 2010 resies gejaag en in die groep kinders ingeploeg het. Lance Witten, ʼn sportaanbieder by eNews, is ook kort hierna geskors nadat hy ná ʼn voorval by die Linkin Park-konsert in Kaapstad ʼn onsensitiewe twiet uitgestuur het. Witten het getwiet: “Linkin Park is so badass, people are dying to see ‘em” [sic]. Een persoon is dood en 19 beseer na ʼn advertensiebord omgewaai het voor die groep opgetree het.

Lance Witten se twiet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.