Fiksheidstoetse: “Niemand sal ‘n kortlys van 35 000 mense opstel nie”

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) versoek dat ‘n Kommissie van Ondersoek ingestel moet word om die dood van sewe voornemende verkeersbeamptes in Pietermaritzburg te ondersoek.

“Die party glo dat die uitslag van ‘n Kommissie van Ondersoek sal bepaal watter stappe gedoen moet word,” het Themba Mthembu, provinsiale sekretaris van die SAKP, gesê. Willies Mchunu, LUR vir vervoer in KwaZulu-Natal, het Saterdag alle toetse vir poste in die Padverkeersinspektoraat opgeskort nadat sewe mense, wat vir dié poste aansoek gedoen het, gesterf het. Mchunu se kantoor sal die saak ondersoek.
Meer as 34 000 mense het vir die 90 beskikbare poste gekwalifiseer. 15 600 mense het onderskeidelik Donderdag en Vrydag fiksheidstoetse by die Harry Gwala-stadion afgelê. ‘n Onbekende aantal mense het flou geval. Talle is hospitaal toe geneem.

Ses mense het tydens ‘n 4km-draf gesterf en een het glo uit frustrasie selfmoord gepleeg.

Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het ‘n beroep op Mchunu gedoen om te bedank. “Wat in Pietermaritzburg plaasgevind het, is ‘n klassieke voorbeeld van iemand wat magsdronk is, tot só mate dat gewone mense sleg behandel word,” het Blessed Gwala van die IVP gesê. “Niemand by sy volle verstand sal in die eerste plek ‘n kortlys van 35 000 mense vir 90 poste opstel nie.”

Mchunu het egter Maandag dié versoek van die hand gewys. “Dit is voortydig om nou te versoek dat enigiemand vir die voorval gepenaliseer moet word voordat die ondersoek afgehandel is,” het Mchunu gesê. “Slegs ná die ondersoek sal ons kan bepaal of enigiemand blameer kan word, dit is wat die reg vereis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.