Foto’s: 2 dood, 2 500 dakloos ná Stellenbosch-brand

Foto deur die gebruiker @kabloemski op Twitter gelaai

Twee mense is dood en 600 plakkershuise vernietig ná ‘n brand vroeg Vrydagoggend in ‘n informele nedersetting naby Stellenbosch uitgebreek het.

Die brand het vinnig oor ‘n groot gebied in Kayamandi versprei. “Twee mense is dood,” het Leon Morta, hoof van die brandweer in Stellenbosch, gesê. Seshonderd plakkershuise is vernietig en sowat 2 500 mense is dakloos gelaat. “Ons vermoed ‘n kers het omgeval, maar daar sal natuurlik ‘n behoorlikeondersoek uitgevoer word om die oorsaak van die brand te bepaal.”

Bykomende spanne met 12 brandweerwaens en 50 brandbestryders is van munisipaliteite in die omgewing ontbied. Toegang na die gebied is bemoeilik deur die ingewikkelde uitleg van die gebied en inwoners wat hul meubels in die strate uitgedra het. Die brand is omstreeks 06:00 geblus, maar brandbestryders was lank op die toneel om te verseker dat die gebied veilig is.

Brande in informele nedersettings is algemeen in Kaapstad, en dit versprei vinnig in die digbeboude gebiede en word gereeld deur sterk winde aangeblaas. Meer as 3 000 mense is Nuwejaarsdag dakloos gelaat ná ‘n brand in ‘n informele nedersetting naby Kaapstad uitgebreek het.

Foto deur die gebruiker Charlotte Rabie op Facebook gelaai

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

“Brandbestryding is bemoeilik deur die ingewikkelde uitleg van die gebied” was die rede waarom die brande moeilik geblus kon word. En het mens verder ook baie simpatie met die brandbestryders wat in die donkerte, rookwalms en ander hindernisse, die brande moes blus.

Die rede vir al hierdie probleme waarmee brandweerspanne te kampe het, is die feit dat Munisipaliteite min of geen beheer het of uitoefen oor plakkery. Mens kry so die indruk dat elkeen wat in ‘n gebied aanland, eenvoudig kan gaan plak net waar hy wil. Dis nou in elk geval ook te laat om orde te probeer skep want die “probleem” het alreeds so gevestig geraak dat daar beswaarlik iets aan gedoen kan word.

Hier in Namibië waar ek woon, is dit verbode dat plakkers binne munisipale gebied kan plak waar hulle wil. Enige nuwe voornemende plakker binne munisipale gebied, is verplig om by die Munisipaleit van die betrokke dorp aan te meld waarna ‘n erf binne ‘n vooraf uitgemete area aan hom toegeken word. Hierdie plakkers-gebiede het strate, waterkrane op aangewese plekke asook gesamentlike toilette en hoë maste waarop ligte aangebring is wat die hele gebied snags verlig. In die geval van ‘n brand is dit dus maklik vir brandweerwaens, polisievoertuie en ander nooddienste om binne die geaffekteerde gebied te beweeg.

Wanneer brande dus wel ontstaan, word slegs ‘n klein gebied geraak en kan die brand dus ook gou geblus word. Mens is dankbaar vir die versiendheid van die Owerhede om ook ten opsigte van hierdie saak, genoegsame voorsorg te tref.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.