Foto’s en video: 200 beseer in Amerika-ontploffing

Foto: Lee Ann Ryan/Twitter

Die video volg onderaan die berig.

Minstens 200 mense is beseer en ʼn onbekende hoeveelheid mense is dood ná ʼn groot ontploffing Woensdagaand by ‘n kunsmis-aanleg in Texas in Amerika. CNN berig dit is reeds bevestig dat twee nooddienspersoneellede dood is, maar dat dié getal kan styg. George Smith, hoof van die mediese nooddienste in die dorp West waar die ontploffing omstreeks 20:00 Amerikaanse tyd plaasgevind het, beraam die dodetal kan moontlik tussen 60 of 70 wees.

Ongeveer 10 tot 15 geboue is vernietig en omtrent 50 huise is beskadig, het Smith aan CNN gesê. Hospitale in Waco, 30km suid van West, is op gereedheidsbasis geplaas om te help om pasiënte te behandel.

Owerhede het reeds bevestig dat dié ontploffing nie met Maandagaand se ontploffings by die Boston-marathon, waarin drie mense dood is, verband hou nie. Nooddienspersoneel op die toneel sê ʼn brand het moontlik tot die ontploffing gelei.

Niemand is nog in verband met die Boston-marathon ontploffings in hegtenis geneem nie, alhoewel twee verdagtes identifiseer is. Niemand het ook nog verantwoordelikheid vir die daad aanvaar nie.

Intussen het die Amerikaanse Speurdiens (die FBI) ‘n man in Mississippi in hegtenis geneem nadat hy glo briewe met ʼn verdagte middel aan president Barack Obama by die Withuis en ‘n Republikeinse senator gestuur het. Volgens NBC News het die briewe positief getoets vir risin. Risin is hoogs giftig en kan binne 36 ure doodmaak. Volgens die FBI is die agentskap oortuig dat die briewe ook nie verband hou met Maandag se ontploffings nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.