Foto’s: Situasie vererger in Sasolburg

ʼn Winkel en ʼn motor is Dinsdag in Sasolburg tydens gewelddadige betogings deur Zamdela-inwoners aan die brand gesteek.

Van die inwoners het verslae toegekyk. “Hulle het die winkel gister geplunder. Waarom brand hulle dit vandag af? Waar gaan hulle koop?” het ʼn vrou gevra. “Ons is nou moeg hiervoor,” het ʼn ander vrou gesê.

In ʼn ander straat is ʼn motor aan die brand gesteek en nog ʼn motor omgeslaan.

Aldrin Sampear, radiojoernalis by Jacaranda FM, se motor is met knopkieries aangeval en met klippe bestook terwyl hy in die voertuig was. Betogers het gedreig om sy motor aan die brand te steek. “Ek was nog nooit so bang nie. Dit was ʼn skrikwekkende ervaring. Ek weet nou hoe dit vir motoriste voel wat verby die betogers moet ry,” het hy gesê. Een van die betogers, met wie hy Maandag ʼn onderhoud gevoer het, het hom gehelp.

ʼn Man het vroeër Dinsdag ʼn joernalis van Sapa met ʼn mes gedreig toe die joernalis die dansende skare by ʼn plaaslike stadion afgeneem het. “ʼn Man in sy 20s met ʼn kleurvolle kopband sonder ʼn hemp het my genader en gevra waarom ek beeldmateriaal afneem en gesê ek moet ophou,” het Vumani Mkhiza, fotograaf vir Sapa, gesê. “Ek het hom geïgnoreer en die man het weer gesê ek moet slegs beeldmateriaal neem wanneer Ace Magashule [premier van die Vrystaat] opdaag. Hy het toe, voor die skare, ʼn mes uitgehaal. Ek het my kameratoerusting opgetel en begin wegloop. “Hy het na my toe aangeloop gekom en gevra of hy na my toerusting kan kyk. Ek het hom weereens ignoreer en weggeloop.” Die betoger het Mkhize toe uitgelos.

Die geweld, wat Sondag begin het, is aangevuur deur planne om Sasolburg by die Ngwathe plaaslike munisipaliteit, waaronder Parys val, in te skakel.

Die polisie in die Vrystaat het Dinsdag vir die tweede agtereenvolgende dag met rubberkoeëls op die betogers losgebrand. Die polisie het ook ʼn pad, wat na die middestad lei, versper in ʼn poging om te verhoed dat die betogers die middestad kan betree. Betogers het probeer om deur die blokkade te bars en die polisie het in reaksie hierop, rubberkoeëls afgevuur.

Die betogers het van die Moses Kotane-stadion in Zamdela gestap. Hulle het vroeër hier bymekaargedrom in die hoop dat Richard Baloyi, minister van samewerkende regering en openbare sake, met hulle sou praat. Die inwoners sê ʼn plaaslike radiostasie het berig dat Baloyi oppad was. Ander het gesê hulle wat vir Ace Magashule om op te daag. Teen 10:00 wou die oproerige skare nie meer wag nie, en het hulle begin sing en hul vuiste geswaai. Die polisie het die skare in pantservoertuie agtervolg.

Vusi Thwala (26), ʼn betoger, wat ʼn bierbottel gedra en met ʼn sleeptong gepraat het, het gesê: “Van hier (Moses Kotane-stadion) gaan ons dorp toe om alkohol te kry en na Parys te gaan.”

Intussen het Sasol ook ‘n skrywe aan sy personeel gestuur om hulle in kennis te stel dat alle hekke by Sasol One as ‘n voorsorgmaatreël gesluit is.

Een van ons Maroela-lesers het die volgende foto’s aangestuur:

[nggallery id=105]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

mina ·

hoe ver wil hulle gaan sal alles plunder en steel die arme witte se belastingeld moet maar weer regmaak hulle is barbare skiet n paar dan sal hule sien die polisie is ernstig nou moet die polisie toekyk en paai

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.