Foto’s van Reeva Steenkamp-moordtoneel gepubliseer

Oscar Pistorius

‘n Skakel na die foto’s volg onderaan die berig. Sky News in Brittanje het Vrydag foto’s publiseer wat glo in die Paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, se huis geneem is nadat hy sy vriendin, Reeva Steenkamp, doodgeskiet het.

Die foto’s het aan die lig gekom te midde van bewerings dat polisiebeamptes, wat in die ondersoek betrokke is, ondervra word oor die beweerde verdwyning van een van die atleet se horlosies uit sy huis. Dit is die eerste keer wat die publiek foto’s te siene kry van die badkamer waar die voormalige model doodgeskiet is.

Een van die foto’s wys waar ʼn paneel van die toiletdeur afgebreek is en twee polisiemerkers onder die deurhandvatsel, waar die koeëls die deur getref het. Volgens Sky News sal die verdediging dit moontlik as bewys gebruik dat die atleet nie sy prostese aangehad het nie.

Die atleet het nog altyd daarop aangedring dat hy en Steenkamp ʼn rustige aandjie by die huis in Silver Lakes, Pretoria, geniet het en dat hy haar vir ‘n inbreker aangesien het.

Die paartjie was net ʼn paar maande saam voordat die skietvoorval op Valentynsdag in 2013 plaasgevind het.

Daar is ook ʼn foto van ʼn geskenk wat die model vir Pistorius vir Valentynsdag wou gee. ʼn Kaartjie met die woord “Ozzy”, haar troetelnaam vir die atleet, kan ook gesien word. Daar is ook ʼn pakkie met hartjie-lekkers.

Die staatsaanklaer voer egter aan dat die atleet se meisie tydens ʼn argument in die toilet gaan wegkruip het en dat Pistorius haar opsetlik geskiet het.

Een van die foto’s wys voetspore in die bloed. Die saak se voormalige ondersoekbeampte, ao Hilton Botha, het reeds erken dat hy deur die toneel gestap het sonder om skoenbeskerming aan te trek. Die bewyse is moontlik hierdeur beïnvloed. Botha is van die saak verwyder nadat dié feite aan die lig gekom het en dat hy self van sewe aanklagte van poging tot moord aangekla word. Hy het intussen uit die polisiediens bedank.

Pistorius moet op 4 Junie weer in die hof verskyn.

Klik hier om die foto’s te sien. WAARSKUWING: Die foto’s mag sensitiewe kykers ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.