Gevalle soldate se liggame terug by die huis

Argieffoto van Suid-Afrikaanse soldate. Foto: GCIS/SAPA

Die 13 Suid-Afrikaanse soldate wat in ‘n skermutseling met rebelle in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) gesterf het, se liggame het Dinsdagaand in Suid-Afrika aangekom.

Brig. Gen. Xolani Mabanga, woordvoerder van die weermag, sê die soldate se liggame het omstreeks 20:00 Dinsdagaand in Suid-Afrika aangekom. Hy sê die families van die oorledenes sal Woensdag besluit of hulle millitêre begrafnisse vir hul geliefdes wil hê. Die weermag het gister die oorledenes se name bekend gemaak. Korporaals Mokgadi Darius Seakamela en Ntebaleng Andrew Mogorosi, en onderkorporaals Daniel Sello Molara en Lukas Mohapi Tsheke is onder die soldate wat Sondag gesterf het.

Die skutters wat gesterf het is soos volg:
– Lesego Maxwell Hertzog,
– Zamani Jim Mxhosana,
– Xolani Dlamini,
– Vusumzi Joseph Ngaleka,
– Karabo Edwin Matsheka,
– Khomotso Paul Msenga,
– Maleisane Samuel Thulo,
– Motsamai William Bojane, en
– Thabiso Anthon Phirimana.

Alle gevalle soldate was lede van Een Valskermbataljon van Bloemfontein.

“Die SANW wil boonop byvoeg dat die soldaat wat tydens die operasie vermis geraak het, veilig opgespoor is. Hy is in ‘n goeie luim,” het die SANW in ‘n verklaring gesê. “Die minister van verdediging en militêre veterane, hoof van die SANW, hoof van gesamentlike operasies en hoof van die Suid-Afrikaanse Leër betuig meegevoel met die vriende en familielede van die oorledenes.”

Mabanga het glo vroeër gesê die SAR-rebelle het berou oor die aksie wat tot die afsterwe van die 13 soldate gelei het. “Die leiers van die rebellegroep het Sondagoggend na die basis gekom en bespreek wat op die grond gebeur. Hulle het berou oor die voorval,” het Mabanga gesê. Mabanga sê hulle het nog nie verdere opdragte rakende beweging van die soldate ontvang nie en die huidige sterftesyfer van Saterdag het nog nie verander nie. Buiten die 13 soldate wat gesterf het, is 27 beseer.

Volgens Mabanga kan hulle nie op spekulatiewe mediaberigte reageer nie. Beeld het Dinsdag berig dat, buiten die amptelike syfer van sterftes en beseerdes, ses spesmag-operateurs ook in die skermutseling gesterf het. Die dagblad berig die SANW het ‘n teiken geword nadat hulle pres. Francois Bozizé glo gehelp het om uit die land na die Demokratiese Republiek van die Kongo te vlug. Die weermag se topstruktuur is glo verlede week al deur senior offisiere in die organisasie gewaarsku dat die sending in die SAR op selfmoord neerkom.

Vliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugmag is Maandagaand glo op bystand geplaas, maar weens finansiële beperkinge was die Gripens nie met wapens met ‘n aanvalskapasiteit bewapen nie. Die soldate het glo op die grondvlak gesukkel weens ‘n tekort aan logistiek en lugondersteuning. Soldate moes noodsaaklike toerusting by die Franse valskermsoldate bekom en met slegs een dokter, met een rugsak met mediese toerusting teenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.