Gewese Somalië-gyselaar pleit armoede

Calitz en Pelizzari kort na hulle vrylating.

Debbie Calitz, wat onlangs ná bykans twee jaar in aanhouding deur Somaliese seerowers vrygelaat is, kan nie haar regsverteenwoordiger bekostig nie, het die Hatfield-distrikshof Woensdag gehoor.

Calitz het aan landdros Kenneth Chauke gesê dat sy nie verder van haar regsverteenwoordiger, Latham Dixon, se dienste gebruik sal maak nie. “Ek kan nie bekostig om hom te betaal nie. Ek wil tyd hê om ʼn ander regsverteenwoordiger te kry.” Chauke het aan haar gesê dat indien sy nie haar regsverteenwoordiger kan bekostig nie sy een van die Regshulpraad moet gebruik. Die saak is uitgestel tot 22 Februarie. Chauke sê indien die ondersoek nie teen Februarie afgehandel is nie, hy die saak van die rol gaan skrap. Calitz het beloof om ʼn regsverteenwoordiger te hê tydens haar volgende hofverskyning. Sy het Woensdag saam met agt ander mense, insluitend haar kinders Kerri-Ann en Jason Cross, verskyn op aanklagte van die besit van dwelms. Die ander beskuldigdes is Matthew Beukes, Jarryd Lottering, Timothy Lombard, Nicolas Fourie, Zane Coles en Donavan Coles. Al nege is in Desember op borgtog van R1000 vrygelaat.

Hulle is in hegtenis geneem nadat die polisie vroeër in Desember ʼn klopjag op Calitz se huis in Constantiapark, in die ooste van Pretoria, uitgevoer het. Calitz en haar voormalige vriend Bruno Pelizzari is op 26 Oktober 2010 deur seerowers ontvoer terwyl hulle aan die kus van Tanzanië met hul seiljag gevaar het. Hulle is in Junie vanjaar vrygelaat ná ‘n gesamentlike operasie deur Suid-Afrika, Somalië en Italië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.