Griekwastad: Inwoners herleef trauma

Deon, Christelle en Marthella Steenkamp.

Inwoners van Griekwastad het Dinsdag in die Noord-Kaapse hooggeregshof getuig hoe hulle ʼn getraumatiseerde en gespanne seun naby die dorp se polisiestasie gevind het die aand van die moorde op die Steenkamp-gesin.

Die 16-jarige seun word van die moorde op Deon Steenkamp (44), sy vrou Christel (43) en hul dogter Marthella (14) op die plaas Naauwhoek op 6 April 2012 beskuldig.

Henriette Truter, wat die restaurant oorkant die polisiestasie besit, het getuig dat sy onmiddellik suikerwater gaan haal het toe sy die seun by die polisiestasie gesien het. Sy het getuig dat sy die seun agter die polisiestasie gevind het by ʼn wasbak waar hy besig was om homself te was. Truter sê die seun het van die suikerwater gedrink terwyl hy met haar gepraat het. Sy het die seun, wat slegs ʼn kortbroek aangehad het, na die restaurant geneem op hom uit die pad te kry sodat die polisie hul werk kon doen. “Ek het nie geweet wat om aan hom te sê nie. Hoe troos jy (so) ʼn kind?” Truter sê sy het die seun later in die badkamer gekry waar hy bloed van sy been af gewas het. Truter sê die seun was getraumatiseerd. “Hy het twee oktawe hoër gepraat.”

Ds. Piet Otto het getuig dat hy die seun in die restaurant se tuin gesien het en dat hy getraumatiseerd was. “Hy het op sy hurke gestaan met sy kop in sy hande.” Bob de Villiers, ʼn sakeman op die dorp, het getuig dat die seun gespanne gelyk het. “Hy het baie rondbeweeg in die tuin en was besig op sy selfoon.”

Die saak duur vandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.