Griekwastad: Kameras het glo nie gewerk nie

Deon, Christelle en Marthella Steenkamp

Sekuriteitskameras het glo geen bewyse opgelewer van die drie moorde wat op ‘n plaas in Griekwastad plaasgevind het nie.

Joachim Scholtz, ‘n boer van die omgewing, het getuig dat ‘n kamera tussen die Steenkamp-plaas en Griekwastad nie aktief was nie, aangesien dit geskuif sou word. ‘n Plaaslike plaasorganisasie was in daardie stadium in gesprekke met Deon Steenkamp om ‘n plek naby sy plaas te identifiseer waar die kamera installeer kan word.

Steenkamp (44), sy vrou Christel (43), en sy dogter Marthella (14), is op 6 April 2012 op hul plaas Naauwhoek vermoor.

Regter Frans Kgomo hoor tans getuienis in die Noord-Kaapse hooggeregshof in die verhoor van ‘n 16-jarige jeugdige wat van die moorde beskuldig word.

Scholtz het gesê hy het die Steenkamp-gesin baie goed geken. Hy en Deon Steenkamp het saam grootgeword. Hy ken Christel sedert haar huwelik met Deon, en Marthella ken hy van geboorte af. Scholtz het onder kruisverhoor bevestig dat hy en drie ander mense die volgende dag, Saterdag 7 April, na die huis toe gegaan het om te gaan skoonmaak. Hy het gesê ‘n bloedbevlekte mat, waar Marthella se liggaam gelê het, en Deon se groen Jeep-baadjie is verbrand weens die hoeveelheid bloed daarop. Scholtz sê hy het dit met die speurders bevestig voordat hy die twee items vernietig het.

Cloete het ook staatsgetuie Henriette Truter, die bestuurder van ‘n restaurant oorkant die Griekwastad-polisiestasie, ondervra. Truter het bevestig dat sy omstreeks 18:00 die aand van die moorde op die stoep koffie staan en drink het. Daar was glo niemand in die restaurant toe ‘n wit dubbelkajuitbakkie voor die polisiestasie gestop, en ‘n seun uitgeklim en ingehardloop het nie. Die seun het glo geskree dat daar ‘n skietery was en dat die polisie moet kom.

Die saak duur voort.

Lees ook:
Boer vertel van Griekwastad-moorde
Griekwastad: Hof besoek moordtoneel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.