Griekwastad-moorde: Seun dalk weer agter tralies

Foto: OFM

Die staat het Donderdag verlof gekry om te appelleer teen die toestaan van borg aan die 16-jarige seun wat beskuldig word van die moord op die Steenkamp-gesin van Griekwastad.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die aansoek om verlof tot appèl is in die regter se kamers aangehoor en toegestaan. ’n Datum vir die aanhoor van die appèl moet nog bepaal word. Dit kan moontlik volgende week wees. Die staat het die aansoek ingedien nadat die seun vroeër op borg van R5 000 vrygelaat is. Staatsaanklaer JJ Cloete voer aan dat die landdros fouteer het deur borg aan die seun toe te staan aangesien die verdagte nie tydens sy borgaansoek ʼn aanduiding gegee het oor of hy onskuldig is of nie, en dat hy vir die polisie gejok het. Die Griekwastad-landdroshof het vroeër die week aangekondig dat die seun se moordverhoor op 11 Maart 2013 sal begin. Die verdagte word aangekla van die moorde op Deon (44), sy vrou Christel (43) en hulle dogter Marthella Steenkamp (14), wat op Goeie Vrydag in hul huis op hul plaas naby Griekwastad doodgeskiet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.