Die appèlaansoek teen die borg van ʼn 16-jarige seun wat van die plaasmoord op ʼn Griekwastadse gesin verdink word, is Woensdag in die Noord-Kaapse hooggeregshof aangehoor.
Die appèlaansoek is afgekeur. Staatsaanklaer JJ Cloete het vroeër aangevoer dat die landdroshof in Griekwastad net op die Kinderwet gefokus het en nie die Strafproseswet in ag geneem het nie. Sharon Erasmus, advokaat vir die minderjarige seun, het egter aangevoer dat dit in die seun se beste belang is om buite polisieaanhouding te bly en dat hy nie ʼn vlugrisiko inhou nie.
Die Staat het teen die borg van R5 000, wat toegestaan is, appelleer. Die tiener word verdink van die moorde op Deon Steenkamp (44), sy vrou Christelle (43) en dogter Marthella (14). Hulle is op 6 April op hul plaas Naauwhoek in die Noord-Kaap doodgeskiet.
Na verwagting sal die hofsaak op 11 Maart 2013 in die Noord-Kaapse hooggeregshof begin.