Groot wending in Chanelle Henning-moordsaak

André Gouws (links) gaan glo met die hele sak patats ten vore kom oor Nico Henning se betrokkenheid. Foto: SAPA

André Gouws (links) gaan glo met die hele sak patats ten vore kom oor Nico Henning se betrokkenheid. Foto: SAPA

Die Chanelle Henning-moordsaak het Woensdag ʼn nuwe wending geneem toe een van die veroordeelde moordenaars aangebied het om ondersoekbeamptes te help om nog iemand te betrek wat glo by haar moord betrokke is.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het dít in die Pretoriase hooggeregshof bekend gemaak, voordat die vonnisoplegging sou begin.

Hy het die hof gevra om een van die veroordeeldes, André Gouws, na die Villieria-polisiestasie te neem sodat hy daar sy prokureur kan raadpleeg. Die saak is daarna uitgestel tot 5 Desember.

Volgens berigte het Gouws glo besluit om met die hele sak patats vorendag te kom oor Henning se vervreemde man, Nico, se beweerde betrokkenheid by haar moord. Die vervreemde egpaar was besig om te skei voor sy vermoor is, en hulle was in ʼn hofgeding betrokke oor wie toesig oor hul seun sou kry. Nico en Gouws is goeie vriende.

Henning se ma, Sharon Saincic, het ná die kort sitting gesê dit was ‘n bittersoet dag vir haar en dat sy haar dogter vreeslik mis en dat niks haar sal terugbring nie. Haar pa, Ivan, het gesê dit was die eerste goeie ding wat Gouws tot nou toe gedoen het, en hy is baie dankbaar oor die nuwe ontwikkeling.

Henning (26) is op 8 November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet nadat sy haar seun by die kleuterskool afgelaai het. Gouws en Monye het onskuldig gepleit op vyf aanklagte wat verband hou met ʼn sameswering om haar te vermoor. Die staat het aangevoer dat Monye en Gouws ʼn komplot gesmee het saam met die voormalige polisieman Gerhardus “Doepie” du Plessis en Willem “Pike” Pieterse (alias Tattoo). Du Plessis en Pieterse, wat selferkende dwelmverslaafdes is, dien tans elk 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle skuldig gepleit het op hul aandeel in die moord.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Henko ·

Ek het GEWEET een van die twee gaan praat! Waarom alleen gaan sit en die baasbrein is op vrye voet!

Ek wil verder byvoeg, afhangende van hoeveel kontakte die baasbrein binne die tronk het, kan hierdie Gouws se lewe ook nou in gevaar wees ten einde hom permanent te snoer!

Nico Blom ·

Nico is self n prokereur, ek weet nie of hy so onnosel sou wees om n moord op so manier telaat pleeg nie.Dalk wou Gouws hom n guns gedoen het.Ons sal maar sien wat die uitkom is.

Helene Heyns ·

Beste nuus van die dag maar ek kan nie verstaan hoekom die man nou eers met die sak patats vorendag kom nie.Hou hom GROOT asseblief tog net in veilige bewaring want netnou word hy uit die weg geruim voor hy kan praat.

Peter Says ·

“Ditsem” ons het geweet ja, hoop net hulle arresteer vir Nico gou.

Max ·

Duidelik kon almal agterkom dat Nico baasbrein agter alles, was as Gouws nie gou na ‘n plek van veilige bewaring gevat word nie, is dit tickets met hom. Nico (mafia) se geld kan weer praat.

Johnny Botha ·

Die feit dat ‘n jong kind, sonder sy moeder, die wreede wereld moet binnegaan is verskriklik. Indien sy pa, vir die sinnelose moord skuldig bevind word, is dit soveel erger. Die mafia-agtige optrede, van skurke in Suid-Afrika, neem erstige afmetings aan. Ons eens trotse nasie is moreel bankrot. Daar is allerlei faktore wat vir die verval in ons land verantwoordelik is.

Ek huldig steeds die mening dat die wegdoen van verpligte Nasionale Diensplig ‘n groot rol speel. Respek (vir mekaar) en dissipline bestaan nie meer nie. Ons moet tot inkeer kom en terug gaan na ons Almagtige Skepper. Ons moet respek betoon teenoor almal ongeag hul ras, geloof en of waardes.

Ons moet verder ook bid dat die huidige regering tot insig sal kom en korrupsie en diefstal ernstig sal aanspreek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.