Gupta-landing: OB gaan taakspan ondersoek

Foto: www.planespotters.net

Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, sal ‘n klag ondersoek teen die taakspan wat die Gupta-vliegtuigskandaal ondersoek het, het haar kantoor Woensdag gesê.

Die klag is deur lt.kol. Christine Anderson, ‘n werknemer by Waterkloof Lugmagbasis, ingedien. Sy is in die verslag geïmpliseer. Pikkie Greeff, sekretaris van die leër se vakbond, het in Mei gesê die bevindings teen Anderson was nie objektief nie. Anderson was in daardie stadium die basis se bevelvoerder van bewegingsbeheer.

Greeff het gesê die verslag se bevindings is gemaak ondanks die feit dat Anderson nie formeel by die ondersoek betrek is nie.

Die volledige verslag oor die landing van die vliegtuig by Waterkloof-lugmagbasis is in Mei vrygestel. Volgens die verslag het ‘n samespanning van beamptes daartoe gelei dat onreëlmatige toestemming aan die vliegtuig verleen is om by die lugmagbasis te land. Die korrekte klaringsprosedures is glo gevolg, maar dit was gebaseer op valse voorwendsels weens die “manipulasie van die proses” deur die Gupta-gesin, individue in die Indiese Hoë Kommmissie, ambassadeur Bruce Koloane, hoof van staatsprotokol, en Anderson. Die verslag het bevind dat Koloane en Anderson se optrede ‘n ernstige pligsversuim was.

Anderson het volgens die verslag bevel en beheer omgekeer en die klaring onbehoorlik beïnvloed.

‘n Vliegtuig, wat deur die Gupta gesin vir 270 trougaste gehuur is, het op 29 April by Waterkloof-lugmagbasis geland. Die gaste het daardie naweek Vega Gupta (23) en Indies-gebore Aakash Jahajgarhia se huwelikseremonie by Sun City bygewoon. Die landing het wyd kritiek uitgelok. Die regering het ‘n ondersoek van stapel gestuur oor ‘n moontlike breuk in diplomatieke protokol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Indirek is Zuma verantwoordelik vir die Waterklooflandings-fiasko want ons weet en die wêreld weet dat Zuma en die Gupta’s groot maatjies is……..en as die president van ‘n land se vriende kom kuier, sal almal mos uit hul pad gaan om die president ter wille te wees – veral as sy maatjies op Waterkloof-lugmagbasis wil land.

Vasvat ·

Hoeveel miljoene is al vermors op die ondersoek,ten koste van die belasting betaler ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.