Helikopters bly in SA, minister moet kostes betaal

Alouette III

AfriForum het die derde hoofstuk in die sage oor die skenking van Alouette-helikopters deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag aan die Zimbabwiese weermag ook suksesvol afgesluit toe die Noord-Gautengse hooggeregshof Donderdag beveel het dat ’n vroeëre interdik teen die lewering van die helikopters in stand gehou word en dat die minister van verdediging die koste van vandag se verrigtinge moet betaal.

Die regstryd het begin toe dit in Januarie vanjaar bekend geword het dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sy uitgediende vloot van Alouette-helikopters aan die Zimbabwiese weermag skenk. AfriForum het destyds met die bekendmaking van die inligting die Noord-Gautengse Hooggeregshof op ’n dringende basis genader en ’n interdik verkry teen die lewering van die helikopters. Nuus oor die skenking het gekom juis toe ernstige vrae oor die menseregte-rekord van Zimbabwe gevra is.

Volgens tersaaklike Suid-Afrikaanse wetgewing en die grondwet, mag die staat of enige ander persoon nie wapentuig en militêre toerusting uitvoer na ’n ander land sonder ’n behoorlike permit nie. ’n Permit kan alleen uitgereik word indien die Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee hom vergewis het van die menseregterekord van die ontvanger van die wapentuig. Dit het nie gebeur nie en AfriForum doen nou aansoek om die tersydestelling van die besluite deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.

Vanoggend se verrigtinge kon nie voortgaan nie, omdat die senior advokaat wat namens die minister van verdediging optree, nadat hy by die hof opgedaag het te kenne gegee het dat hy siek voel en ’n dokter moet gaan spreek. Hy het namens sy kliënte aangebied om die verspilde koste van die vrugtelose voorbereiding van die hofverrigtinge te dra en ook aangebied dat die tussentydse interdik teen die lewering van die helikopters in plek bly.

AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies het in ’n verklaring gesê na die dag se verrigtinge het AfriForum steeds ’n interdik en ’n kostebevel teen die staat. “Die helikopters gaan nêrens heen nie. Inderwaarheid is dit ʼn oorwinning,” het Spies gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.