Henning-moord: “Ek is trots op jou, my vriend”

Chanelle Henning

Een van die mans wat daarvan beskuldig word dat hy Chanelle Henning se moord beplan het, het ure ná die moord R44 000 uit sy bankrekening onttrek, het die Pretoriase hooggeregshof Dinsdag gehoor.

Kapt. Francois Moller, selfoondatakenner van die Valke, het getuig dat André Gouws sy mede-beskuldigde, Ambrose Monye, twee keer net voor 14:00 op 8 November 2011 geskakel het voordat hy die kontant onttrek het. Gouws het Monye weer ná die onttrekking geskakel en die mans het ‘n hele paar keer gesels voordat hulle beide net voor 15:00 in die Sunnyside-gebied aangekom het.

Gouws het ná die onttrekking slegs R971.08 in sy rekening oorgehad.

‘n Voormalige werknemer van Monye, ‘n voormalige Olimpiese atleet van Nigerië met sy eie sekuriteitsmaatskappy, het drie dae later R31 500 in sy bankrekening inbetaal.

Henning is op 8 November deur twee mans op ‘n motorfiets in Faerie Glen, Pretoria-Oos, doodgeskiet net nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het.

Gerhardus du Plessis en Willem “Pike” Pieterse, beide voormalige polisiebeamptes, het getuig dat Monye en Gouws die moord beplan het en hulle betrek het om die “vuil werk” te doen. Du Plessis en Pieterse het albei in Desember 2011 skuldig gepleit op die moord.
Du Plessis, wat erken het dat hy die sneller getrek het, en Pieterse dien tans 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle ‘n pleitooreenkoms met die Staat aangegaan het.

Moller het getuig dat Pieterse Monye sowat ‘n kwartier ná Henning se moord gekontak het. Monye het Pieterse teruggeskakel en hom twee keer daarna ook gebel voordat hy Gouws net ná 08:00 die oggend geskakel het. Monye en Gouws het mekaar, voor die kontantonttrekking, verskeie kere deur die loop van die oggend gekontak.

Moller het getuig dat hy, deur middel van ‘n gesofistikeerde nuwe rekenaarprogram, die data kon opspoor wat Gouws van sy selfoon af uitgevee het. Hy het ook inligting van die selfone en selfoonrekords van Gouws, Monye, en ander vermeende rolspelers in die moord analiseer.

Moller het besonderhede verskaf oor die oproepe tussen die mans, asook hul bewegings in die dae voor die moord en op die dag van die moord. Hy het getuig dat Gouws en Monye mekaar in die maand voor die moord sowat 142 keer gekontak of probeer kontak het.

Monye en “middelman” Pieterse het 77 keer in dieselfde periode mekaar gekontak en Monye en Du Plessis vyf keer.

Gouws en sy vriend, Henning se vervreemde man, Nico Henning, was ook gereeld in kontak in die maand voor die moord. Op die dag van die moord het Gouws en Monye mekaar 14 keer gekontak. Monye het Pietse ses keer gekontak.

In die dae ná die moord, tot die eerste inhegtenisnemings op 14 November, het Gouws en Monye mekaar 25 keer gekontak. Monye en Pieterse het mekaar ook verskeie kere deur middel van oproepe en boodskappe gekontak en Du Plessis het Monye ook verskeie kere gekontak.

Moller het verder getuig Gouws het verskeie foto’s van Nico Henning op sy selfoon gehad. Op een van die foto’s is Henning saam met Gouws se vriendin, Estelle Hepburn, wat as staatsgetuie sal optree.

Deur die data wat van Gouws se selfoon bekom is, het Moller ‘n SMS opgespoor wat Gouws die dag ná die moord aan Henning gestuur het: “Ek is trots op jou, my vriend.” Die SMS is twee ure nadat Henning ‘n leuenverklikkertoets by die ondersoekende span se kantoor ondergaan het, gestuur.

Twee dae later het Gouws ook ‘n boodskap aan Henning gestuur om hom geluk te wens met sy verjaarsdag. Die polisie kon nie enige ander boodskappe tussen die twee mans opspoor nie.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.