Henning-moordsaak: Vonnisoplegging hervat

André Gouws (links) gaan glo met die hele sak patats ten vore kom oor Nico Henning se betrokkenheid. Foto: SAPA

André Gouws (links) gaan glo met die hele sak patats ten vore kom oor Nico Henning se betrokkenheid. Foto: SAPA

Die vonnisoplegging van twee mans, wat skuldig bevind is oor hul betrokkenheid by die moord op Chanelle Henning, hervat vandag in die Pretoria-hooggeregshof.

Henning se moordsaak het ʼn nuwe wending geneem toe een van die veroordeeldes, André Gouws, aangebied het om ondersoekbeamptes te help om nog iemand te betrek wat glo by haar moord betrokke was. Staatsaanklaer Gerrie Nel het dít in die Pretoriase hooggeregshof bekend gemaak voor die vonnisoplegging sou begin. Die saak is tot vandag uitgestel.

André Gouws word sedert verlede Woensdag by die Villieria-polisiestasie aangehou waar hy sy prokureur geraadpleeg het. Gouws se medepligtige Ambrose Monye, ʼn voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, is saam met Gouws skuldig bevind dat hulle saamgesweer het om Henning te vermoor.

Volgens berigte het Gouws glo besluit om met die hele sak patats vorendag te kom oor Henning se vervreemde man, Nico, se beweerde betrokkenheid by haar moord. Die vervreemde egpaar was besig om te skei voor sy vermoor is, en hulle was in ʼn hofgeding betrokke oor wie toesig oor hul seun sou kry. Nico en Gouws is goeie vriende.

Henning (26) is op 8 November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet nadat sy haar seun by die kleuterskool afgelaai het. Gouws en Monye het onskuldig gepleit op vyf aanklagte wat verband hou met ʼn sameswering om haar te vermoor. Die staat het aangevoer dat Monye en Gouws ʼn komplot gesmee het saam met die voormalige polisieman Gerhardus “Doepie” du Plessis en Willem “Pike” Pieterse (alias Tattoo). Du Plessis en Pieterse, wat selferkende dwelmverslaafdes is, dien tans elk 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle skuldig gepleit het op hul aandeel in die moord.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.